Ôk maar lekker stupid, ons in Lallaland
Welkom, welkom hier by ons! Mag jy nog lank vertoef hier in Lallaland, dit dalk nog jou permanente tuiste maak!
Sien, hier ís die gras altyd groener, elkeen het ʼn huisie by die see en ʼn beesplaas in die Mieliedriehoek, waar dit reën, op bestelling. Dit word glad nie te koud nie, geld groei aan bome en selfs die petrolprys daal elke maand!
Boonop voorsien ons in elkeen se hartewens. Wyn op bestelling? Kies vir jou ʼn wynplaas! Moeg vir werk? Bly gerus tuis, ons betaal jou salaris tot jy weer lus kry – en jy hoef nie haastig te wees nie!
Hier doen wetstoepassers hul werk en bekeer ons skelms tot dominees. Hoë amptenare is eerlik genoeg om hul salarisse af te staan vir die verpleegsters en onderwysers wat regtig werk en ons het die wonderkuur vir oudword ontdek!
Jy hoef my nie te glo nie, jy kan maar net wens. Hier raak wense wáár.
Sien, in Lallaland is die lewe bekostigbaar, selfs vir die jongeling wat maar nou net begin werk asook die ou mensie wat op haar pensioen moet oorleef.
Gepraat van ou mensies, ons het ook ʼn telefoon na die hemel en besoektye een maal ʼn maand. As jy nie nou gereeld by jou eensame ma of pa in die ouetehuis kon uitkom nie, moenie bekommerd wees nie, die hele hiernamaals wag!
Doeke, melk en Prozac word geskenk aan huise met klein kindertjies asook enkelouers en dis hier waar Trump en Biden om een tafel met Kleine Keiler-proppies op hul neuse kom sit. Boonop het die Orkney Snork nie- en Vetkoekpaleis-episodes hier nog glad nie tot ‘n einde gekom nie!
Al die vee- en wilddiewe is tereggestel, saam met die verkragters, moordenaars en wreedaards. Met tak en wortel verwyder uit Lallaland en selfs hul nageslag uitgeskop.
Almal hier het kos, want die skelms en die gierigaards het tot bekering gekom. Hulle dien nou dié wat hulle nog altyd vertrap en besteel het. Oorsese vakansies is nimmereindigend en ten volle geborg, jy noem net die bestemming!
Ons wek groen elektrisiteit op en ons reis per teleport. Ek belowe, jy kom heel anderkant uit. Aarbeie so groot soos my vuis en die bye en koeie lewer hul melk en heuning in grootmaat by die huise af.
Hier bring mense beduidende sosioëkonomiese en ander broodnodige veranderinge mee deur op sosiale media te baklei en mekaar te verneder. Inderdaad, in Lallaland is sleutelbord-soldate (keyboard warriors) dus eindelik nuttig vir iets.
As jy nie tevrede is met jou voorkoms nie – ons verstaan. Ons skep vir jou ʼn nuwe liggaam in ʼn laboratorium, waarna ons “jou” met behulp van ‘n breinoorplanting kan oorplaas. Jou kloon kan vir jou gaan werk of jou kinders tuis op pas terwyl jy in Griekeland baljaar.
Kos het ons, somer en son het ons en water het ons. Meer onlangs die magtige Zambezirivier nader gehark en nou hardloop Gods water oor Gods akker.
Ons is onkeerbaar en ons ken al die oplossings. Verhewe bo ander en ôk maar lekker stupid, ons hier in Lallaland!

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie