No Image Caption

Kantlynspasie en genade

Wiesie sê maar net - [email protected]
Hoe weet ‘n mens iemand anders is moeg, uitgeput of het te min geslaap? Hulle vertel jou gewoonlik. Die lied ‘Amazing Grace’ is die laaste ruk pal in my gedagtes. Met diè het ek begin wonder wat "grace" dan nou sodanig in Afrikaans sou wees. Google vertaal "grace" as genade. Nie heeltemal die woord wat in my hart hang daarvoor nie, maar ja, genade sal werk vir vandag se doeleindes.

In musiekterminologie kry ‘n mens iets soos ‘n "grace note". Die vertaal in Afrikaans na ‘n kort, nie-noodsaaklike musieknoot wat gebruik word om ‘n musikale gedeelte te versier en belangstelling daar te skep.

In samewerking met die ornamentele en grasieuse sin van die word wat hierbo uitgespel word, wil ek by ‘n ander begrip gaan draai om die verdere punt te maak van hierdie skrywe. Om grasie te verleen aan iets of iemand vertaal na die kansellasie of die uitstel van ‘n straf.

En hiermee is ons weer terug by genade.

Wanneer dit dol gaan in ‘n mens se lewe, is daar baie maal min kapasiteit tot ‘n mens se beskikking om genade uit te oefen. Teenoor ‘n mens self, teenoor ander. Gewoonlik ook wanneer dit dol gaan, is daar min of geen kantlynspasie nie. Ek praat nou nie rugbyterme hier nie, ek praat van die leë, oop spasie rondom enige stukkie skryfwerk. Daardie spasie help gee definisie en struktuur aan ‘n stuk skryfwerk. In figuurlike terme help daardie spasie om definisie te gee aan ‘n mens se lewe. ‘n Mens het ‘n randjie van ‘niks’ nodig om aan die ‘iets’ in jou lewe struktuur te verleen.

Nie almal is bevoorreg om oor die Kerstyd op vakansie te gaan nie. Party mense hou aan werk omdat die werkslading hulle aan die werk hou. Ander se bedrywe sluit nie oor die Kerstyd nie. Dink maar net aan die verkoopsman of dame agter die kassier by die algemene handelaar. Of die petroljoggie wat Oukersdag op sy pos is. Ek dink aan my gawe kennisse by Republikein wat maar ‘n kort breuk neem van die konstante en verwoede pas waarteen die nuus daagliks verwerk en versprei moet word.

Ek het een versoek aan julle en sommer myself. Wanneer jy op enige stadium in die volgende paar weke voel dat dinge te veel raak, jy in die rooi gedryf word deur ‘n kollega, werksprobleem, familielid of moeilike situasie – voor jy ontplof, neem asseblief stadig en versigtig net eers ‘n tree terug. Is daar ‘n manier om aan die situasie kantlyn, marge of spasie te gee voor dit erger raak? Indien nie, is my laaste hoop om te vra of jy kan genade hê. Eerstens vir jouself, en tweedens teenoor die oorsaak van jou stres.

Genade – die kansellasie of uitstel van ‘n straf.

Vir die gelowiges wil ek daaraan herinner dat ons genade moet hê omdat Hy dit eerste met ons gehad het. Vir die ongelowiges, hê genade omdat dit sielkundig beter vir jou is op die lange duur - nie net beter vir jou medemens nie.

Kan ons probeer om die versierings en belangstelling te wees in ander se lewe hierdie Kersfees? Dit is nie noodsaaklik nie, maar wanneer ‘n mens aan ‘n ander genade bewys, gee jy hulle ‘n kans om die oomblik en die lewe ‘n bietjie langer, ‘n bietjie meer te geniet.

Ek is ‘n groot aanhanger van die konsep van spasie of kantlyn in my eie lewe, maar ‘n swakkerige uitvoerder daarvan. Ek gaan poog om die balans tussen die kwaai en die genade te probeer handhaaf hierdie jaar. Ek onthou nog te goed laas jaar Desember se ontploffing wat ek gehad het en wil dit graag ten alle koste vermy.

Mag jul Kersseisoen geseënd en met genade gevul wees. Tot volgende jaar!

Kommentaar

Republikein 2024-12-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 35° Rundu: 22° | 34° Eenhana: 22° | 34° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 23° | 35° Tsumeb: 20° | 33° Otjiwarongo: 19° | 32° Omaruru: 23° | 35° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 19° | 31° Henties Bay: 16° | 20° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 21° Rehoboth: 22° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 25° | 38° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 18° | 28° Ariamsvlei: 24° | 39° Oranjemund: 16° | 23° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 18° | 25° Lubumbashi: 16° | 30° Mbabane: 17° | 28° Maseru: 16° | 29° Antananarivo: 16° | 33° Lilongwe: 22° | 34° Maputo: 23° | 34° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 18° | 22° Durban: 22° | 27° Johannesburg: 17° | 23° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 22° | 33° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!