Kersfees sonder ’n geliefde
Kerstyd lok almal, maak nie saak hoe jonk of hoe oud jy is nie.
Daar is ’n sekere opgewondenheid en nostalgie wat onlosmaakbaar ingeweef is in Kerstyd. . . ’n tyd wat dinge loswoel in ’n mens se kop en jou hart. Glimlag-dinge, onthou-dinge, verlang-dinge, “sê nou maar net”-dinge, geheimsinnige, pakkie-wegsteek dinge. . .
Vir elkeen van ons kom Kersfees nader met ’n ander nuanse as laas keer, want daar het intussen ’n hele jaar verloop. Sommige se Kersfees sal ’n viering wees van saamwees en lag en jubel in die vreugdes van die lewe. Maar daar is ook dié wat hierdie Kerstyd binnegaan — aarselend, onseker — want alles is so onherroeplik anders. Anders, want daar is ’n leemte, ’n gat in die hart, ’n leë stoelplek om die tafel, ’n stem wat stil geword het en ’n hand wat nooit weer vasgehou kan word nie. Die eerste Kersfees en al die baie ander “eerstes” sonder daardie persoon maak seerder as seer. . . dit kerf vlymskerp deur jou hele wese.
Dis hoekom ek vandag met jou in my gedagtes sit waar ek hier skryf. Jy wat hierdie jaar ’n geliefde verloor het. Oral waar jy trap, is dit in die glasskerwe van jou verlies. As woorde kon salf wees, sou ek jou hart sagkens wou streel met die koel verligting van troos en wou verbind met ’n allesbedekkende verband om jou te beskerm teen die verdere snye en brand en verlammende seer van hierdie pad wat jy nou besig is om te stap. Maar, woorde is nie salf nie; empatie is nie ’n verband nie en niks wat iemand anders kan doen, kan hierdie verskriklike werklikheid verander nie. Jy móét hierdeur, maar ek kan jou wel van een ding verseker.
Jy is nie alleen daar in die maalkolk van jou binneste nie. HY, jou Heer, is by jou en Hy sal jou nooit los nie. Hy is al een wat ooit werklik kan verstaan waardeur jy nou gaan. Hy hou jou vas, Hy dra jou, Hy streel jou siel se trane weg en sal dit aanhou doen. Leun op Hom, vertrou Hom en weet: selfs nou, selfs in jou storm van emosies en verlies en vrae, is Hy in beheer. En Hy weet die beste. Juís nou, juís hier. Jy kan nie die watermuur voor jou oopbreek vir ’n pad om deur te gaan nie, maar Hy kan. En Hy sal – op die regte tyd. Jy kan nie die storm stilmaak nie, maar Hy kan. Jy weet nie hoe die reuse van verlange en seer en herinnering te verslaan nie, maar Hy doen. Hou net vas aan Hom, Hy sal jou deurdra en Hy sal jou vashou en aanmekaar hou.
Jou God is daar vir jou en jy het jou herinneringe wat altyd joune sal wees. Dis joune om te koester. Doen dit, maar weet ook – jy lewe nog. En jy lewe omdat daar nog 'n doel vir jou op hierdie aarde is, ’n taak wat net jy kan vervul. Koester jou geliefde in gedagtes, treur, onthou, huil en lag. Maar gaan aan met die krag en die wil wat jy sal kry van die Een wat nader aan jou is as jou eie asemhaling.
Vra jouself af wat jou geliefde se begeerte, se gebed vir jou sou wees? En probeer dan om juis dit te doen, te leef, te wees. Doen dit as 'n eerbetoon aan daardie persoon, ’n laaste geskenk. ’n Geskenk wat ’n glimlag sou laat skyn oor daardie geliefde gesig.
– Gasskrywer
– [email protected]
* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie