No Image Caption

Kies die silwer randjie

Gerine Hoff
Nou die dag besluit ’n ou om sonder sy flikkerlig voor my in te ry. So, lyk my al die grappies oor BMW-bestuurders wat nie weet hoe om hulle flikkerligte te gebruik nie, is toe die waarheid.

Onmiddellik is ek geïrriteerd, want hoekom kan hy nie iets so eenvoudig soos ’n flikkerlig gebruik nie? Is sy hande rond?

Daar is natuurlik baie dinge wat my tot raserny dryf. . . Dalk pla dit nie eens vir iemand anders nie. Maar soos ons dominee onlangs gepreek het, is hierdie soort reaksie van my in meeste gevalle heeltemal oordadig en daarmee saam heeltemal onnodig. Want al wat jy doen is om jou bloeddruk op te jaag – en dit oor iets wat iemand anders gedoen het, en waarskynlik nie eens besef hoe woedend hy jou gemaak het nie, of hoe erg jy ontstig is oor wat hy gedoen het – of in hierdie geval, nie gedoen het nie.

Nog klein (of groot) jakkalsies is stadige of onoplettende bestuurders; mense wat jou onderbreek terwyl jy in die middel van jou storie is; swak kliëntediens; mense wat oopmond of te hard kou (veral iemand wat so pas besluit het hy móét nou ’n appel eet); mense wat aanhoudend laat is asof ons nie iets anders het om te doen nie; mense wat nie luister nie, waarskynlik omdat hulle op hul selfone besig is; daai wat so hard op hulle selfone praat want natuurlik wil die res van die wêreld se bevolking weet hoe belangrik jy is; en dan morsjorse – want hoekom sal jy jou swietspapier uit die kar se venster gooi?

Maar, hierdie rubriek is nie om te kla nie. Eintlik is dit eerder ’n bietjie “positive reinforcement” om jou te herinner aan hoeveel lekker en vreugde daar ook in die wêreld is en kan wees.

Sommer eerste is goeie, hegte en betekenisvolle verhoudings; met vriende, familie, kollegas. Hoe lekker is dit nie om vir ure lank te kuier – verkieslik met ’n glas wyn in die hand – en om oor alles en niks te gesels nie.

Dis ewe lekker om betrokke te wees by ’n aktiwiteit of organisasie of geleentheid waaroor jy passievol is. Of dit nou ’n stokperdjie, sport, of selfs jou werk is. Wanneer jy betrokke raak by iets wat jy regtig geniet, hou dit jou positief.

Blykbaar laat fisieke aktiwiteite jou ook positief voel, maar mense wat my ken weet al hoe ek daaroor voel. As ek die woord “oefen” hoor, spoel ek my mond eerder met sjokolade uit.

Uitstappies en wegbreke is natuurlik ook ’n lafenis vir die siel. En moenie klein dingetjies, soos ’n lekker ete wat jy nie self moes maak nie, mooi musiek, of ’n skemerkelkie terwyl die son se laaste strale die lug in ’n skildery omskep, onderskat nie.

Dan is daar dankbaarheid. ’n Eenvoudige, onverwagse dankie of die besef oor hoeveel ons eintlik het om oor dankbaar te wees. Terwyl die lewe nie altyd maklik is nie, oorskadu die goeie gewoonlik die slegte, en ’n gevoel van positiwiteit kan jou hele dag in iets mooi omskep.

En – “if all else fails”, soos die Engelse sou sê – is daar baie medikasie wat help om jou angs, woede en bloeddruk onder beheer te hou!

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 18° | 33° Rundu: 19° | 33° Eenhana: 20° | 35° Oshakati: 23° | 34° Ruacana: 21° | 36° Tsumeb: 20° | 31° Otjiwarongo: 19° | 31° Omaruru: 21° | 35° Windhoek: 18° | 33° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 18° | 23° Swakopmund: 17° | 18° Walvis Bay: 18° | 22° Rehoboth: 22° | 35° Mariental: 24° | 37° Keetmanshoop: 22° | 38° Aranos: 22° | 37° Lüderitz: 20° | 33° Ariamsvlei: 23° | 39° Oranjemund: 17° | 23° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 22° | 33° Lubumbashi: 16° | 19° Mbabane: 14° | 27° Maseru: 17° | 33° Antananarivo: 18° | 26° Lilongwe: 18° | 24° Maputo: 22° | 33° Windhoek: 18° | 33° Cape Town: 20° | 23° Durban: 20° | 27° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 17° | 25° Harare: 16° | 23° #REF! #REF!