Klein maar kragtig
Petronella Genis – Ek het iewers in die eerste uurtjies van die dag wakker geword. Meneer Son was nog diep in Droomland, soos die res van ons huis. In skrille kontras was die Sterre almal op en wakker. Ek het my aan hulle verwonder, maar een het my oog selfs meer as die ander gevang. So skitterend groot en asemrowend mooi dat ek net vir iemand móés vertel. Hoe kan ek swyg?
Suutjies sluip ek af in die gang om te kyk of Nguni, ons worshond, dalk ook wakker is. Hy slaap houtgerus, maar ons seun reageer dadelik op my opgewonde vraag: “Is jy wakker?”
Ek gaan wys vir hom die grootste, mooiste ster. “Ja, dis mooi,” sê hy geduldig voordat hy terug gaan kamer toe. Daar is DV darem nog ’n paar jaar oor wat ek mooi goed vir hom sal kan wys.
My hart! Daar is net ’n paar aandjies oor voordat ons dogter die huis groet om te gaan studeer. Ek is so opgewonde saam met haar oor die groot voorreg om in Afrikaans by Akademia waarlik student te kan wees, sodat sy as kleuterskooljuffrou die volgende generasie in ons moedertaal kan inspireer.
“Engeltjie, kom kyk,” fluister ek.
“Wat kyk ons?” vra sy slaperig terwyl sy haar handjie uithou sodat ek haar kan ophelp en saamvat op ’n ontdekkingstog.
“Kyk die Suiderkruis, en sy twee sterremaats. . . en kyk dáár na daai gróót een!”
“Dis massief!” sê sy. Ek lei haar terug kamer toe en maak die deur weer saggies toe. Ja, Myne Kleine Meisiekind wat nou groot is, die voorreg om julle ma te wees is selfs groter as daai ster. Ai.
Petronella Genis
Vakgroep Afrikaans
Universiteit van Namibië
[email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie