Koes, hier kom hulle!
Ek sê maar net (30 jaar gelede)
Chris Jacobie – Daar is min twyfel dat die natuur- en wildlewe van Namibië die potensiaal het om die grootste verdiener van inkomste vir die land te word.
Mense stroom in hul duisende na die land se natuurbakens en van hulle stroom nou vinniger as ooit tevore om ’n laaste kykie van die Hoba-meteoriet te kry voordat die regering se vriende en diplomatieke konstruksiewerkers uit Maleisië die laaste stukkie afgesaag het om weer in Maleisië aanmekaar te gaan sit.
Dit lyk reeds soos ’n komplot om een van die land se toeriste-aantreklikhede stelselmatig uit die land te verwyder en op ’n plek te gaan vestig waar daar beter beheer oor dit sal wees as wat die geval in Namibië is.
So gaan dit ook met die Versteende Woud in Damaraland waar mense stukke klip wegry om elkeen ’n miniatuurwoudjie in hul erwe in New York, Madrid en Timbaktoe te gaan vestig.
In die Etosha Nasionale Wildtuin het besoekers en Transvalers dit nou reggekry om diere die gewoonte om water te drink, af te leer. Sodra iets in die warm Etosha-son by die water aantree, beskou toeskouers dit as ’n uitnodiging om uit hul voertuie te klim, hul arms te waai, toeters te druk of om die diere met bierblikke te bestook ten einde “aksie” te sien.
Dit het sulke afmetinge aangeneem dat die diere ’n spesiale woudpatrollie saamgestel het om motors se registrasiemerke na te gaan en aan die diere te rapporteer watter van die tweebeenspesie by die watergat sit en wag.
Die diere hou blykbaar ’n vergadering en stem of daar water toe gegaan kan word, of nie.
’n Onlangse besoek aan Etosha het bewys dat diere nie by die water opdaag as daar motors met sekere registrasiemerke en plastieklemoene op die lugdraad, volgelaai en met hul neuse hemelwaarts vir diere sit en wag nie.
’n Eensame olifant het by Klein-Okevi die hele oggend water gedrink en in ’n stadium vlakvarke en sebras by die poeletjie met sy slurp weggedruk sodat hy die laaste leksel water kon kry.
Sy dors was groot, maar nie so groot dat hy aanhou drink het toe ’n bussie vol lawaaierige toeriste in ’n stofwolk en met kameras met lense so lank soos lugafweerkanonne op hom toesak nie.
Van die toeriste se kameralense is in die olifant se oog gedruk voordat hy, steeds dors, bosse toe koers gekies het. In ’n stadium was die hoop dat die olifant sy slurp vol klippe sal trek en die kartetse op die lawaaimakers sal laat reën.
Die hoop het weens die ordentlikheid van die olifant beskaam en dit waarskynlik omdat hy in een van die koerante wat teen die Ghwarrie-bosse vasgewaai het, gelees het dat toeriste ordentlik en met ontsag behandel moet word.
Hierdie ordentlikheid het nou tot gevolg dat ’n meteoriet weggedra word en dat konstruksiewerkers met geen agting vir die reëls van hul gasheerland diplomatieke immuniteit verkry het.
Die uiteinde is dat toeriste die land se wette gaan maak en die regering opdrag gaan gee om dit na te kom. Van dié wette kan wees dat daar in Etosha gejag mag word, met volstruise gesmokkel mag word, Otjikoto se water uitgepomp mag word en bakstene uit die Tintenpalast as aandenkings uitgekap mag word.
Wat dan oorbly, is die jaarlikse safari in die Namibwoestyn om na die geheimsinnige piesangplantasie van mnr. Nujoma te gaan soek.
Daar is glo ’n staatskar of viskonsessie as prys vir die Namibiër wat die geheime piesangplantasie in die Namib, Pidico se Vryehandelsone by Walvisbaai en die Olieraffinadery van Usakos kan opspoor. – 15 September 1994

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie