Gerhardus van Grootfontein
Gerhardus van Grootfontein

Kom ons herevalueer ‘ruggraat’

Gerhardus van Grootfontein – Onlangs het ek weer omgegaan met die idee van “ruggraat” in onse Namibiese Afrikaner denke. Wat beteken dit wanneer iemand ’n ruggraat het? Volgens die Afrikaanse woordeboek het iemand ’n “ruggraat” wanneer hulle vasberade is – met ander woorde deursettingsvermoë het. Taalkundig word hierdie spreke ook gekoppel daaraan om ’n staatmaker te wees.

Soos baie dinge in ons 100 jaar jonge kultuur word die idee van “ruggraat hê” ook deur ’n tipiese Afrikaanse, soms toksiese, manlikheid gedefinieer. Ek sluit myself hierby in – ek is immers ’n man wat in ’n Afrikaanse omgewing met hierdie unieke kultuur en tradisies grootgeword het.

Ons idee van “ruggraat hê” word soms gekoppel aan eienskappe van ’n eie-ek wat verhewe bo die samelewing en die natuur is.

Ons almal lei aan ’n eie-ek-sindroom. Hoe dan nou anders? Ons ervaar die wêreld vanuit ons eie, subjektiewe realiteit en dit stel ons in die episentrum van die heelal. Met deursettingsvermoë en harde werk skep ons ’n welverdiende wêreld en ’n plekkie in die son.

Die leer wat hierdie eie-ek gebruik (met ruggraat en al) om van een hoogte na die volgende te klim, is stewig geanker in kapitalisme. ’n Etiese vraag is: “Wie hou die leer vas?” Bou ons nie ons lewens en sukses op die rûe van ander mense en selfs die bloed van diere nie?

Om in ’n samelewing te funksioneer waar dubbelkajuitbakkies op ’n see van armoede, swaarkry en minimum wage vaar is nie oukei nie.

Dan kom die klassieke regverdiging “ek betaal belasting”; “hulle is hulle regering se probleem” en “ek doen niks verkeerd nie”. Goed, as ’n spesie wat tot die piek van die kosketting ontwikkel het, behoort ons te weet dat ons ’n sosiale spesie is wat interafhanklik van mekaar is. Wanneer daar nie ’n interafhanklike verhouding tussen mense is nie, kan geen ekonomiese stelsel funksioneer nie. Die dubbelkajuitbakkie kan immers net gekoop word wanneer daar werknemers is, wat werk doen, waarop die werkgewer wins maak. Dit is ’n interafhanklike verhouding. Nie? So, ons is deel van ’n stelsel waarvoor ons moet pa staan.

Tog, as individue, kan ons niks sistemies aan ons samelewing doen nie. Nie ek of jy het die mag om teen Mammon te veg nie. Ons kan wel in ons eie onderdanigheid ons aandag rig op ons medemens – nie om ’n medalje te kry of in die hemel te kom nie, maar om ’n beter wêreld te skep. Die samelewing funksioneer die beste wanneer mense mekaar ondersteun. Deur vandag iemand te bemagtig, dra jy by tot ’n kultuur waar ander ook bereid sal wees om te help, wat langtermyn-welsyn verseker.

Om behoeftiges te bemagtig hoef nie ’n arm en ’n been te kos nie. Dit kan net wees deur die inherente waarde van diegene om ons te erken. Ons kan glimlag vir die dame wat grondboontjies en tamaties langs die pad verkoop wanneer ons uit die dubbelkajuitbakkie klim op pad supermark toe.

Om bedagsaam teenoor jou medemens en hul behoeftes te wees, toon emosionele intelligensie en morele groei. Volgens my is dit wat dit beteken om “ruggraat” te hê: die vasberadenheid om ’n verskil te maak en om ’n staatmaker vir mense te wees wat minder as jy het.

Die strewe na sukses is nie die enigste vorm van ruggraat nie. Inteendeel kan dit gesien word as gierigheid. En, in ons Afrikaner kultuur (asook in baie ander kulture) word ons van kindsbeen af gekondisioneer om gierig te wees. Ten minste kan ons Namibiese Afrikaners op Juanita du Plessis trots wees. Dit is altyd ’n troos.

– Gasskrywer

[email protected]>



* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Network Media Hub (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-02-27

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer