No Image Caption

Koning Sejong die Grote: ’n Portret

Gerhardus van Grootfontein – Leiers het nie net ’n invloed op die hede nie, maar ook op die toekoms van ’n volk. Leiers van vandag plant die bome wat die vrugte afwerp vir die kinders, kleinkinders en agterkleinkinders van die nasie.

So paar maande gelede het ek in Seoul per ongeluk in ’n museum beland wat die storie van Koning Sejong die Grote vertel. Ek het die uitstallings prikkelend gevind en op die ou end ’n hele rukkie daar vertoef. Terwyl ek oor hierdie merkwaardige Koreaanse koning gelees het, kon ek nie help om aan Namibië te dink nie...wat as?

Koning Sejong was derde in lyn as troonopvolger, maar sy pa (koning Taejong) het besluit om hom kroonprins te maak weens sy beduidende intelligensie en menslikheid. Op die ouderdom van 22 het Sejong die troon bestyg en so het Korea se goue era, in 1418 CE, begin.

Sejong het in die Gyeongbukgung-paleis gewoon. Dit is ’n massiewe paleis wat Sejong baie meer funksioneel ingerig het as net vir residensiële gebruik. Die spasie het ook gedien as “laboratorium” waar kenners en wetenskaplikes eksperimente uitgevoer het en toestelle ontwerp het om die weer, die ruimte en tyd beter te verstaan.

Die eerste reënmeter, wat ons tot vandag toe gebruik, is daar uitgevind. Europa het eers 200 jaar later hierdie instrument die lig laat sien. Hierdie uitvindsels is gebruik vir landboudoeleindes en gevolglik is die kosmandjie van Korea uitgebrei. Die land het van byna hongersnood tot ’n welgestelde nasie ontwikkel.

Die volk was baie naby aan Sejong se hart en die koning het die mense altyd eerste gestel. Hy het in plaas daarvan om in weelde te leef, die belasting aangepas om Jan Alleman tegemoet te kom. Die land se wette is aangepas om regverdigheid en gelykheid in plek te stel. Gemarginaliseerde groepe, onder andere vrouens en slawe, is meer regte en aansien in die samelewing gegun.

Voor die heerskappy van Sejong, was Boeddhisme as religie, die oorheersende denkwyse van die land. Die filantropiese koning het gereken mense moet eerder hul respek en toewyding aan hul medemens verbind en nie aan ’n oppermag nie. Dus is Confucianisme, as die hoeksteen van morele waardes in plek gestel. Ten spyte van kritiek teenoor Confucianisme het sosiale harmonie, waardestelsels en onderwys ongekende hoogtes in Korea bereik.

Nelson Mandela het gesê dat die grootste gelykmaker onderrig en opvoeding is. Koning Sejong het byna 600 jaar voor Madiba dieselfde idee gehad. Korea het oorspronklik van die Chinese lees-en-skryf-kultuur gebruik gemaak. In daardie stadium was dit selfs ingewikkelder as vandag, omdat dit baie meer geneig het na piktogramme. Dit was hopeloos te moeilik vir ’n hele volk om aan te leer en dus het Sejong opdrag vir die ontwikkeling van ’n eenvoudige alfabet gegee.

Ná drie jaar se denke en swoeg, in 1446, is Hangul aan die publiek van Korea bekend gestel. Hangul word tot vandag toe gebruik in Suid-Korea en kenners reken dat dit steeds een van die mees innoverende en toeganklike skryfstelsels ter wêreld is. Dit was tjoeftjaf en ’n hele nasie kon binne etlike jare lees en skryf.

Koning Sejong die Grote word geag as ’n sleutelrolspeler in die historiese grondslag van Suid-Korea se huidige welstand. Sy vooruitdenkende leierskap, kulturele hervormings en wetenskaplike innovasies het ’n blywende impak gehad op die Koreaanse samelewing, wat tot vandag toe voortleef. Sy nalatenskap het baie bygedra tot die waardes, identiteit en sukses wat moderne Suid-Korea kenmerk.

– Gasskrywer

[email protected]



* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-03-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer