Kreef en kaiings
Hester Steenkamp – Een van die liefdes-takies wat ons vir ons dogter verrig wanneer ons daar doer ver by hulle gaan kuier, is om hulle yskas en vrieskaste uit te pak, te ontvries en weer reg te pak. En dan maak ons sommer ’n voorraadopname van wat alles daar is, net om haar lewe so bietjie makliker te maak. Dis mos maar iets wat van tyd tot tyd gedoen moet word. Met ons laaste kuier daar het ek en haar pa dit weer gedoen. Nadat alles skoon en klaar was, was daar twee pakkies op die kombuiskas oor waarvoor daar nog ’n gaatjie gesoek moes word. Een was ’n sakkie met twee kreefsterte en die ander een ’n sakkie kaiings.
Dit het my laat glimlag. Dit het haar twee families so perfek opgesom, want sy het beslis die kreef by haar skoonouers gekry, en die kaiings kom van die plaas af. Bederfkos en trooskos. En ons het mos bietjie van al twee nodig. Sommige dae is kreefdae, en ander is weer kaiingdae. En dis maar net hoe die lewe is.
Sommige dae haal jy jou beste uit. Jy maak jou lippe rooi en spuit parfuum agter jou ore en in jou kuiltjie, kap knoffel en pietersielie en maak die sousie met regte plaasbotter en jy verf dit oor die kreefsterte met behae. Dan skink jy yskoue Sauvignon Blanc in blink langsteel glase en jy geniet dit met Maria Callas sag op die agtergrond terwyl die kerslig patrone teen die mure gooi. Jy proe die see en die rykheid daarvan laat voel jou bevoorreg en spesiaal. Sulke dae is goeie dae. Dis ’n geleentheid, want dit gebeur nie gereeld nie. Dis ’n oplig van jou gemoed en jy voel beter en jou probleme en sorge raak minder soos die leë doppe meer raak.
Maar sommige ander dae staan jy verlore met ’n handvol kaiings in jou kombuis en verlang. Dan kan ’n paar kaiings in jou handpalm jou terugvat huis toe. Al die pad terug tot op die grondpad, verby die kokerboomwoud, oor Vaalgras se bruggie tot by jou grootwordhuis. Jy proe die liefde van die plaas. Jy proe vars plaasbrood en tuisgekookte tamatiekonfyt en skaaprib op kameeldoringkole. Jy proe saamkuier en lag om die groot kombuistafel en ’n koue bier wanneer die son oranje sak in die weste. Jy hoor die vinke in die koorsboom en hoe die windpomp tjieng-tjieng sing soos dit saam met die wind draai. Jy hoor die geblêr van die skape en jy hoor hoe die stilte van die plaas in jou ore raas, al staan jy net daar in jou kombuis voor die yskas, in ’n ander land. Heimweë lê jou hele lyf vol. Die onthou vat jou terug na die veiligheid en sorgeloosheid van jou ouerhuis. Daar waar jy steeds net ’n kind kan wees, al is jy nie meer ’n kind nie. Jy staan en hou daardie kaiings vas asof dit van goud gemaak is, want vir jou is dit veel meer as net vetkrummels. Dit is jou hele geskiedenis.
Ek het vir my dogter gevra waarom sy nog nie die kaiings geëet het nie, want dit moes al ’n geruime tyd in haar vrieskas gewees het. Toe kyk sy lank na my en sê sy kan nie. Sy sien nie kans om dit te eet nie, want wat maak sy as dit opraak? Wat as daar nie meer is nie? Haar ouma het dit met die laaste kuier vir haar gegee, en dit is vir haar te kosbaar. Die wete dat dit daar is, is genoeg.
Nie alle dae kan kreefdae wees nie. Dit moet ook nie wees nie, want te veel van ’n goeie ding is nie goed nie. En dan sal jou kreefdag ook nie spesiaal wees nie. Dit sal dan maar net ’n gewone dag wees. En net so is elke dag gelukkig ook nie ’n kaiingdag nie. Hulle is net so skaars soos kreefdae. En tussen-in leef ons en werk ons en doen ons wat gedoen moet word, en dis hoe ons balans vind in ons bestaan.
– Gasskrywer
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie