Krismisklokkies en klatergoud
Charlotte Beukes-Muundjua
En hier gaat ons alweer – klokslag die ge-Jingle Bells en winkels wat jou begroet met skarlakenrooi.
Dit blink, maar onder die geskarrel van kamma-winskopies ruik ek letterlik die stank van kommer in die ellelange lyne na die betaalpunte; daardie punte wat ’n massiewe gat in jou beursie knaag.
Starende gesigte, elkeen met sy eie bondel gedagtes. Ander se angs klou aan my vas.
Ek kriewel, wil net klaarmaak en skoert!
Ek hou net mooi niks van die pre-Kersfees optog nie.
Wie is die moeder van die koue klatergoud Kersgety-manie? Sy het regtig nie gedink nie.
Hier maak ons gereed om die geboorte van die Koning van konings te herdenk, maar ons verdrink in ’n see van materiële dinge. Dis asof die mensdom se brein ontkoppel is van die hart, die beterwete.
Die honger oë van shoppers herinner aan die kannibale in die rillerfliek Wrong Turn.
Die rooi wat passie moet uitbeeld, raak vir my druppende bloed.
Op ’n ligter noot: Kersvader is ook ’n “YouTuber” – glo met sy eie blog en WhatsAp-groep. As jy nie een van sy intekenaars is nie, is dit koebaai Meraai! Briewe word herwin vir toiletpapier.
Ek’t ook verstaan Kersvader kom glad nie dié jaar na hierdie kant van die wêreld toe nie. Hoekom? Hy’t dit goedgedink om liewer basiese benodighede soos kos en klere vir die oorlog-lande te vat.
Bravo, Kersvader! Een man wat reg dink!
So, Namibië se kinders moet maar wag maar tot hulle verjaardae vir ’n iPhone.
Ek onthou die Krismis uit my eie kinderjare. My liewe ouma het nie koekies gebak nie. Nee, sy was die straat se brood- en gemmerbier-queen. Ons het met ons kerkrokkies gaan draai by Antie Lappies, want sy kon koek bak.
Ons Krismis-ete was soos ’n normale Sondag-ete: eenvoudige hoender, geelrys, beet en miskien aartappelslaai in die plek van die tradisionele pampoen.
O ja, en rooi jellie met vla en ingelegde perskeskyfies. Die waatlemoen tussen die riete is koud gehou onder ’n groot handdoek wat ons om die beurt moes natmaak.
Wat Kersgeskenke betref, moes jy jou dinges dank as jy van Pep Stores se poppe kon kry – daardie soort met bene vas aanmekaar en oë wat nie beweeg nie. Die domste speelding ooit. Ek het ’n waterpistool verkies om die hoenders “besig te hou”.
Ouma was kinderlik opgewonde oor ’n koekie Vinolia-seep of Goya-lyfpoeier. Oupa is een jaar bederf met ’n ordentlike sakmes en biltong... sal ek ooit die glans in sy oë vergeet?
En so het ons ook ’n dronk antie om die draai gehad, Sy het altyd gesê: “Ek worry spaghetti want ek hetti.” Ja, sy was koelpitte, maar die girl was netjies. Klokslag op 1 Desember is gordyne gewas, maklik nog die mure ook. Haar woorde was: “Maak jou hart en huis skoon vir die Koning se koms.”
Die Kersboom is in die veld gaan haal en ’n paar klokkies as versiering was genoeg, solank die Bethlehem-ster bo-op gepronk het. Ons het sommer sterretjies uit ou foelie gemaak. Die voetstuk was ’n groot koffieblik of emmer vol nat grond, oorgetrek met verlede jaar se geskenkpapier of goiingsak wat eintlik meer aards is.
Onder die boom is die krip staangemaak, ons het droë gras gaan haal, herders is van klei gemaak. Moeder Maria, Josef en Jesus was regte beeldjies – ’n aandenking van die Katolieke sending waar Oupa jare lank ’n handyman was.
Nou ja, voor ek braak van al die klatergoud, laat ek huiswaarts keer.
Ek los my drie sakke op die kombuistafel en stap reguit stoep toe, ek soek suiwer lug en dink toe aan my gedig:
Eva, toe jy jou eie God wantrou het
en grootmoed Sy vrug eien
sou jy ooit kon reken
dat jy nooit jou kind se diep honger kan stil
’n heelal se noodkreet demp?
Sal jy ons honger nóú
in Godswye vrugteboord begryp?
My nederige gebed is vrede vir almal vir dié Kersgety en ’n ommeswaai in waardes.
- Gasskrywer
[email protected]
* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman. [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie