Kwartlewe-krisis?
Ek het onlangs my 25ste lewensjaar gevier.
Met die brawe aanname dat ek 100 jaar oud gaan word soos Ouma Lena wat ’n wyle gelede op ons voorblad was, is ’n kwart van my lewe nou met ander woorde verby.
In meeste opsigte is ek ’n volwaardige grootmens – ek het ’n werk, ’n woonstel, ek betaal belasting en koop my eie toiletpapier, my slaappatroon is effens moertoe en ek het sakke onder my oë wat beslis nie nou al so prominent moet wees nie. En tog voel ek meeste dae asof ek nie onder die grootmens-kategorie moet val nie. Ek sal daarvan hou as my ma vir my ’n middagete-kosblik kan inpak, of ’n warm bord kos reg kan hê as ek saans tuis kom. Ek kry selfs af en toe ’n drang om ’n goeie, outydse vloermoer te gooi as iets in my lewe skeefloop of as die frustrasie te veel raak. Ek doen dit natuurlik nie, maar ek sal daarvan hou om die opsie te hê.
Ouderdom (ouer word) is natuurlik ’n vreemde konsep. In my oumagrootjie se dae het hulle al op 16 begin trou en kinders kry. Teen die tyd wat my ouers my huidige ouderdom was, is ek gebore. Deesdae werk dinge effens anders. Ek het vriende, oudklasmaats en/of kennisse wie se kinders al skool toe gaan, hulle eerstelinge verwag, reeds getroud is, pas verloof geraak het, ’n paar wat nog studeer en natuurlik dié wat nog by hulle ouers bly en nie juis te lank of hard nadink oor loopbaanverwante toekomsplanne nie. Terwyl ek vir minstens drie dae na die tyd soos ’n kleuter se papgekoude stuk biltong voel as ek een keer ’n maand uitgaan, is daar mense my ouderdom wat elke week kan gaan kroegkruip (my mooi Afrikaans vir “pub-crawl”) en nie soos ’n zombie lyk vir die res van die week nie.
As ek doodeerlik moet wees, is daar wel ’n klein deel van my wat graag niks sal wil doen behalwe om heeldag op die bank te lê en beurtelings Judge Judy of The Great British Bake-off te kyk nie, maar dit sal nooit as te nimmer toegelaat word nie. Nie deur my ouers of myself nie. En ek is dankbaar dat ek met daardie mentaliteit grootgemaak is.
Die ding van verjaarsdae, is dat dit dikwels met meer introspeksie gepaardgaan as enige ander gewone dag. Ek het dit gaan google – “birthday blues” is ’n algemene verskynsel wêreldwyd. Want soos jy ouer word, begin jy dink aan alles wat jy al in die lewe bereik het of nié bereik het nie. Of jy gelukkig is met jou lewensomstandighede, jou werk, jou verhoudings en liefdeslewe en uiteindelik of jy gelukkig is met jouself.
In ’n digitale era waar dit so maklik is om die illusie van ’n perfekte, vol lewe te skep, is dit baie maklik om te voel of jy nie die mas opkom nie. Maar dit is belangrik om jouself te herinnner aan die ou gesegde van “looks can be deceiving”.
Ek moet myself ook konstant herinner dat mense nie die klein foute in my lewe raaksien nie. Dis ék wat uiteindelik so baie gewig daarop plaas. Dis waar dat daar deesdae baie druk op jongmense (ons twentysomethings) is om uitsonderlik te wees, maar uiteindelik is dit die belangrikste dat ons ons bes gee en nooit ophou om aan onsself te werk nie.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie