No Image Caption

Laat iets aan die verbeelding oor

Tannie Sannie het een keer gesê: “Mense voel seker soms baie benoud in die klere wat hulle dra.”

Ek het begin wonder of sy nie oor my skimp nie, want ek was per slot van sake van kop tot tone in swart geklee. Ek volg toe die tannie se blik en sien dit is op ’n groepie jong meisies voor ’n selfdienswinkel vasgenael.

En sowaar as vet, hulle was feitlik naak. Al ses van hulle se “outfits” het net genoeg materiaal gehad om een van hulle ten volle te klee.

Met die aanbreek van die vorige eeu was dit ongehoord dat ’n vrou se enkels gesien moes word. Nou vertoon die jong meisies al hul liggaamsdele en hulle lyk soos ’n desperate advertensie vir die manne se aandag.

Met die nuwe modes wat deesdae gesien word, word die rokkies so kort gedra dat jy wonder of dit eintlik die “top” is. Ekself kry glad koue rillings om net daaraan te dink.

Destydse vroue het dikwels gelyk of hulle hulself maer gesweet het en dan moes hulle seker nog min aan tafel eet ook, want hulle moes uitstekende uurglasfigure gehad het.

Maar nou kan ons maar vergeet van die enkels en net bid dat ietsie meer van die lywe versteek mag bly. As mens deesdae die modekanaal op TV aanskakel, voel dit vir my ek het nie die mooiste lyf nie, soos die dames aantrek. Ek dink ek lyk seker baie outyds vir ander mense met my lang rok en langmoubloese.

As ek terugkyk na ons president, hoe mooi sy aantrek, wil ek my die heeldag aan haar uitrustings vergaap, want dis mos hoe ’n dame moet aantrek.

As die jonger geslag nie wil kyk of hulle hul enkels op nege plekke kan breek nie, druk hulle nog die figure uit proporsie deur hulself in té klein kleertjies in te forseer. As ek die spulletjie so bekyk, moet hulle keer om nie vorentoe te val nie.

Ek weet nie van ander mense nie, maar ek sien nie kans om ’n stukkie of ’n repie lap vir N$200 te koop nie, nog minder sien ek kans daarvoor om daarmee in die openbaar gesien te word.

Ek weet darem ook ’n bietjie van “global warming”, maar tog neem ons dit ook ’n bietjie te ver as ons ’n kledingstuk aantrek wat lyk of net die bandjies oorgebly het nadat iemand die res van die rokpatroon verwoes het. My ouma sou vir seker haar kleintongetjie ingesluk het as sy dit moes sien. Ek sou beslis nie in my jong dae waag om in sulke skaamtelose gewade die huis te verlaat nie – ek sou myself buitendien doodgeskaam het.

Kom ons hou maar nog die modeneigings dop en kyk wie kom met die eerste deurskynende plastiekrokkie na vore, of wag, ek verbeel my Kanye West se metgesel het dit reeds gedoen. Ek hoop net nie daardie vertoning kom vat pos hier by ons nie. Vader behoede ons.

Sommige ouer omies sal in die ergste ongelukke beland as die meisiemense lyk of hulle hulself net met ’n paar kleefplastiekvelle toegedraai het. Om nie eers te praat van die kindertjies se siel nie. Die kleutertjies sal seker lewenslank sielkundig geskend wees.

Dames asseblief, laat eerder iets aan die verbeelding oor. – [email protected]



* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Network Media Hub (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer