Laat klein Deon lees
Vir so lank as wat ek kan onthou, is boeke deel van wie ek is.
Van kleins af is ek as die familie se boekwurm voorgestel en ’n tannie wat kom koffie drink, sou sê: “Ek wens ons kon vir klein Deon (of wie ook al) oorreed om te lees, maar hy wil niks weet nie, hy wil net sy cartoons kyk en sy comics hê.”
Min het sy besef dat klein Deon reeds lees wanneer hy Spiderman se nuutste mannewales geniet – dit is nou nie Tolstoy of Nietzsche nie, maar dit is wel lees.
As ons vir klein Deon sê hy moet sy comics neersit en ’n boek sonder prentjies lees, sê ons vir hom die boeke waarvoor hy so lief is, is nie rêrig lees nie.
Rêrige-êrige lees is die vervelige soort lees sonder prentjies wat hy niks van hou nie. Laat klein Deon tog net lees.
Ek kan nie meer mooi onthou hoe, en by wie, ek geleer lees het nie, maar ek onthou baie goed die boekie oor ’n hondjie en sy mensmaatjies wat in die swembad geswem en roomys geëet het om die somerhitte te verdryf.
Ek dink nie ek het toe al geweet wat ’n skool is nie, wat nog te sê van om self skool toe te gaan.
Voor ek kop of stert van die letters kon uitmaak, het die prentjies van Spot my aandag getrek. Hy het soos ’n vriendelike hondjie gelyk wat ek graag sou wou hê.
Ek het telkemale die boekie deurgeblaai voor ek nuuskierig begin raak het oor die vervelige ou letters. Dit was eers toe die prentjies van Spot nie meer my verbeelding aangegryp het nie, dat ek begin wonder het oor die letters. Laat Deontjie ook sy prentjies geniet – voor jy jou oë uitvee raak die prentjies in sy boeke al hoe kleiner en minder en die teks al hoe meer.
Dieselfde geld vir kos – ek was nie op dié gebied baie voorbeeldig nie. My ma het gereeld kinders aangegaap wat groente en vrugte eet en gesê: “Nee wat, my kindertjies eet nie groente nie.”
In my tienerjare het ek gereeld kinders opgepas en die ma’s het gereeld gekla dat hulle kinders nie spinasie wou eet nie, maar as jy sou vra, sou jy hoor dat hulle die groente net so voorgesit het. Selfs as ’n volwassene kort ek ’n bietjie room of witsous. Hoe verwag jy van ’n kind om warm blare te eet en dit nog te geniet ook?
Die ma sou sê room is nie gesond nie, maar my kind sal eerder ’n bietjie room inkry en baat by die voedingswaarde van die spinasie as wat hulle hul hele lewe onder die indruk is dat hulle nie van spinasie hou nie. Niemand hou van spinasie net so nie – behalwe dalk een of twee geheime psigopate in ons samelewing.
En dit geld nie net vir kinders nie – ek het op agtjarige ouderdom besluit ek hou nie van komkommer nie. Ek het egter onlangs dit nog ’n kans gegee. Sedertdien eet ek minstens een keer per dag ’n “wrap” met komkommer in. Wie weet of ek ooit eendag komkommerslaai net so sal kan eet? Al wat ek weet, is ek kry nou die komkommer in my liggaam en ek geniet dit.
Jy mag jouself soms – in die naam van vooruitgang – soos ’n kind gedra, en jy mag kinders soos kinders hanteer in die hoop om passies en goeie gewoontes te kweek. – [email protected]
* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie