Aldo Horn
Aldo Horn

‘Laat my tog toe om te steel’

Aldo Horn
Kunsmatige intelligensie (KI) het tot vandag toe nog nie my lewe ’n enkele bietjie verbeter nie.

Inteendeel, ek kan nie meer inligting op die internet opsoek sonder om gebombardeer te word deur KI-artikels wat eentonig, voorspelbaar en gereeld onakkuraat is nie.

Om foto’s te soek, is skielik baie moeiliker, want die helfde is KI-foto’s wat van ver af heel orraait lyk, maar sielloos en onopmerklik voorkom wanneer ’n mens ’n tweede keer kyk. Om nie eens te praat van hoe hierdie KI-taalmodelle met ander kunstenaars se werk geleer word nie.

Die kunstenaar se kuns – hetsy musiek, foto’s, skilderye, gedigte, of stories – word vir hierdie model gevoer sodat dit kan leer hoe om “kuns” te produseer.

Met “kuns” bedoel ek werk wat oor en oor opgekou, ingesluk en uitgespoeg is om iets sonder betekenis, sonder siel voor jou neer te smyt.

Natuurlik sonder hulle toestemming.

Te danke aan hierdie gebruik van kunstenare se werk sonder enige vergoeding, word menige maatskappye wat genererende KI-modelle maak vir kopieregskending gedagvaar. Maatskappye soos Suno en Udio, waar ’n mens kernwoorde kan intik om ’n liedjie met musiek te genereer, is ook in die moeilikheid.

OpenAI, die maatskappy agter die KI-taalmodel, ChatGPT, het onlangs ’n versoek aan die House of Lords in die Verenigde Koninkryk gerig om vrygestel te word van kopieregwette, omdat dit “onmoontlik” sal wees om die KI-modelle verder te leer op slegs data wat vrylik aan die publiek beskikbaar is. Dus, volgens hulle versoek, moet hulle toegang kry tot materiaal wat onder kopiereg beskerm word, sonder om daarvoor te betaal.

Dit is dalk die mees kreatiewe manier wat ek nog ooit enigiemand hoor sê het: “Asseblief, meneer regter. My sakeplan is nie goed genoeg om geld te maak sonder om te steel nie. Laat my groot asseblief tog toe om te steel.”

Die kunstenaars is ook afhanklik van die geld wat hulle werk in bring om te lewe, en as een van hulle iemand anders se werk steel, word hulle nie vrygespreek van kopieregwette nie.

Ek kan daarvan beskuldig word dat ek eenvoudig net gekant is teen KI (wat nie onwaar is nie) en vae woorde soos “sielloos” en “betekenisloos” net rondgooi om ’n punt te maak.

Gaan luister na Steve Hofmeyr se liedjie “RUT” wat ’n vroue-KI-stem in ’n duet saam met Steve Hofmeyr uitstal. Hy sing sy hart uit. ’n Mens kan duidelik die passie, die liefde, die siel hoor, terwyl die KI-stem eentoning voortdreun met ’n kontras tussen mens en lewelose masjien so groot dat niemand, selfs die grootse verdedigers van KI, dit nie kan ontken nie. Vergelyk dan hierdie liedjie met sy duet van “Amanda” saam met Demi Lee Moore. Die verskil is soos dag en nag.

As ons nie kan saamstem dat daar iets uniek menslik en rou aan kuns is nie, weet ek nie hoe om my punt te maak nie. Kuns is nie net die eindproduk nie, dis ’n proses. Dis ’n proses wat KI nie kan verstaan nie. Wat weet ’n masjien van die menslike ervaring af? Niks, en as ’n mens KI-gegenereerde werk teëkom, sien ’n mens dit amper dadelik.

Vir nou. Eendag sal dit my dalk ook mislei.

Dit mislei reeds baie mense wanneer dit kom by sosiale media. Dis ’n nagmerrie om deesdae op Facebook en Twitter te wees met sinnelose en deurmekaar KI-foto’s wat rondgestuur word.

Solank as wat ek weet iets is KI, sal ek weier om dit te ernstig as kuns te oorweeg. KI-boeke en gedigte is ook stadig aan besig om kop uit te steek, maar hoekom sal enigiemand die moeite doen om die boek te lees wat niemand die moeite gedoen het om te skryf nie? – [email protected]

* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!