Lees hier jou aap!
Sê maar net 30 jaar gelede
Verlede week verskreeu ’n dogterskind in die huishouding my in reaksie op ’n eenvoudige vragie. Vir wat wonner ek.
So ’n twee dae later verneem sy weer by my na ’n ietsie. Toe ek my betrap, het ek haar klaar verskreeu. Nooit was dit ter vergelding vir haar optrede nie. Net sommer maar. Tog wonder ek nie meer nie, want die rede is skielik bekend.
Die verkouevirus het ons huis se mure binnegedring, haar eers beetgekry en toe vir my. Dis van pure mislikheid dat daar so oorreageer word. Verkoue – die eintlike naam van die olikheid wat mense desedae ’n klomp geleerde name soos flu, influenza, brongitis, laringitis en griep (met sy variëteite van Hongkong, Oosters, Asiaties, Spaans en Russies en die kleure van die reënboog) noem.
Waarmee ek vir geen oomblik bedoel dat elkeen wat verkoue het maar op straat kan loop en skreeu nie. Dit sal ’n stad van onmin afgee, want net waar jy gaan, word daar gehoes, geproes en genies.
Hiemstra se woordeboek praat ook van ’n ander verkoue wat hulle “nuwesiekte” noem. Net toe ek wil besluit om “nuwesiekte” te hê, om ’n ietsie nuut in die huis te kry in die dae van swaarkry, lees ek verder dat dit die aantasting is wat by perde voorkom.
Ook dit klaar vir my ’n probleem op. Ek kon dit nie kleinkry dat my July-perd Saterdagmiddag iewers in die bondel verdwyn en blykbaar heeltemal vergaan het nie. Moes pure nuwesiekte gewees het. Of die drie-dae-stywesiekte waarvan ek ook al gehoor het.
Vir verkoues is daar baie kure en rate. Die een uit die kliniekargief van die ou boere wat ek nie maklik sal oorweeg nie, is om in die perdestal by die hings te gaan tap en die vloeistof dan op wilde-als te laat trek voordat dit weggeslaan word.
Vir my was die lekkerste voorskrif daardie “drie dae in die bed”. Gaan kruip toe ook Vrydag in die kooi. Met al hierdie koorsbesigheid is dit egter nie maklik om te slaap nie. Eers wonder jy of jy en ’n kollega mekaar reg verstaan het oor ’n sekere stuk werk. Dan raak jy byna seker julle het nie. Dan is jy daarvan oortuig dat julle verskil en dat hier ’n groot blaps kom.
Van hierdie punt spring jy byna in jou klere om by die werk te kom. Dik van die pille (en in my jare brille) vergeet jy op pad om die rigtingwysers van die motor te gebruik, kyk jy ’n geel lig mis en hou jy by ’n groen verkeersein stil en ry oor ’n rooie.
’n Spietkop wink. Jy skreeu: “Ek het verkoue, bobbejaan!”
En die Spiedie gil terug: “Ek ook, swaap!”
Dis ’n kar vol koors en die ruite word afgedraai sodat die winterswinde jou kan laaf. By die werk gekom, gaan staan jy in die gif van die wintersonnetjie vir ’n bietjie hitte terwyl jy vasstel dat jy en die kollega mekaar presies reg verstaan het en dat daar geen fout is nie.
Nou is dit ’n jaagtog terug kooi toe. En in die proses het die virus met die koue winde en hittige sonnetjie nuwe spierkrag gekry. Sieker kruip jy terug in die kooi tot met die volgende bang-aanval dat iewers iets verkeerd neuk. Dan is dit weer opspring en jaag in wat ’n siklus van die dood kan word.
Nie verniet dat JD altyd sê die ergste van aftree is die feit dat jy werkloos is nie.
’n Verkoue as bate?
Een keer per jaar laat dit elkeen besef hoe misbaar hy of sy in hierdie lewe is.
Een keer per jaar lewer dit ’n onderwerp vir hierdie rubriekie.
“Het julle gehoor, hè!” – 7 Julie 1992

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie