Annemarie Schullenbach
Annemarie Schullenbach

Leierskap vir leke – Oor resiesperde en kefferhonde

Henriette Lamprecht
Annemarie Schullenbach – “Bestuurders doen dinge reg; leiers doen die regte dinge.” – Peter Drucker: Bestuurskonsultant.

Wie het nie al ’n stuiwer in die armbeurs gegooi in die debat rondom leiers en bestuurders nie? Aan die een kant van die tou staan dié wat sê ons het méér leiers as bestuurders nodig.

Aan die ander punt trek die groep wat glo goeie bestuurders is voldoende. In die middel balanseer die tousitters en wonder of die verskil dan nou só groot kan wees.

Om die tousitters uit te help: in ’n neutedop is die verskil dat die doel van bestuur is om orde en bestendigheid te verseker; terwyl leiers verandering en beweging moet bewerkstellig.

Bestuurders vervul drie kritieke rolle: beplanning en begroting; organisering en personeelbestuur; en toesig en probleemoplossing. Bestuurders is dikwels by die samestelling van die departement se werksagenda en roosters betrokke en sorg dat die nodige hulpbronne daarvoor beskikbaar is. Hulle verskaf die strukture vir personeel om saam te werk, verseker dat rolle gevul word en stel die reëls en prosedures op waarbinne personeel hul take uitvoer.

Dikwels is bestuurders ook daarvoor verantwoordelik om werkers tot produktiwiteit aan te spoor, met kreatiewe oplossings vorendag te kom en, sou dinge skeefloop, regstellende optrede te verseker.

Leiers aan die ander kant (volgens kenners nou) is dié individue wat daarin slaag om hul werknemers in ’n spesifieke rigting aan te spoor deur ’n groot visie aan hulle te kommunikeer, en werkers te laat verstaan hóé die groter prentjie inmekaar vleg. Leiers bedink strategieë en help hul volgelinge om daarby in te val. Dít kry hulle reg deur hul doelwitte duidelik te kommunikeer, toewyding te weeg te bring en spanne te bou wat die strategieë bevorder. Leiers is die inspireerders, motiveerders en bemagtigers wat volgelinge se energievlakke opjaag en in hul persoonlike behoeftes tot selfverwesenliking kan voldoen.

Genugtig, as mens so na dié prentjie kyk is dit sekerlik baie meer opwindend om ’n leier as ’n bestuurder te wees – inteendeel, “bestuur” klink maar bra vervelig. Soos die verskil tussen resiesperde en keffers.

Dalk is dit egter nou die tyd om die fokus te verskuif. Dalk is die vraag nie meer óf ons resiesperde of keffers nodig het nie; maar eerder wánneer? Wanneer het ons die groot magtige Ferrari-soort resiesperde nodig, en wanneer het ons die klein, keffers nodig wat konsekwent blaf? Die geskiedenis het tog reeds bewys daar is ’n plek in die son vir albei – die visionêre leiers soos Mahatma Gandhi wat ’n hemelse vrede sien, Martin Luther King Junior met sy beroemde “droom”, en Elon Musk se wens om die mensdom se voete op die rooi planeet vas te skop.

Aan die ander kant is daar ook ’n plek vir dié individue met hul voete behoorlik in die aardse grond vasgemessel – besigheidsbestuurders soos Steve Jobs, Martha Stewart en Walt Disney wat dikwels as mikrobestuurders beskou word omdat hulle só op detail en operasionele uitnemendheid gefokus is.

Ware aanvoerders weet wanneer om te lei en wanneer om te bestuur, en beskik oor die vermoë om tussen verskillende kontekste en geleenthede te onderskei.

Ware aanvoerders weet wanneer dit nodig is om breëbors in jou resiesskoene met ’n droom so groot soos Mars rond te trippel. En ware aanvoerders weet ook wanneer dit die regte tyd is om net daar op

die kantlyn te staan en blaf, en seker te maak dat al die eendjies getrou en in netjies-uitgewerkte gelid die kliënte tevrede hou.

*Annemarie Schullenbach is ’n navorsings-, sake- en bemarkingskonsultant met ’n meestersgraad in besigheidsleierskap en veranderingsbestuur van die Namibië Universiteit van Wetenskap en Tegnologie. Sy het meer as 20 jaar se professionele ondervinding in die private en openbare sektor, in leierskap, strategie en navorsingsbepaalde belangstellingsvelde.



* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Network Media Hub (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-04-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer