Leierskap vir leke – Lankal nie meer ’n vervelige voetpaadjie in die woud
Annemarie Schullenbach – “’n Leier is die een wat die pad ken, die pad loop, en die pad aanwys.” – John C. Maxwell
Daar is waarskynlik soveel definisies van leierskap soos daar volgelinge is, maar meeste hedendaagse geleerdes stem saam dat leierskap die vermoë van ’n individu is om volgelinge tot ’n gemeenskaplike doelwit te inspireer.
Kom ons wees eerlik – dikwels word “uitsonderlike leierskap” voorgehou as die Noag wat ons samelewing gaan red van alles wat onvanpas en ongewens in die onvermybare apokalips is.
Daar steek ’n mate van waarheid in, want goeie leierskap bewerkstellig suksesvolle maatskappye, lei tot nuwe ontdekkings en groter vordering, laat samelewings floreer en gee volgelinge daardie ekstra bietjie “skop” om hul beste te gee.
Die lewe is egter ook vol kwaadwillige leiers wat hul uitsonderlike leierskaptalente vir al die verkeerde redes aanwend, en uitnemend daarin slaag om hul volgelinge tot ondenkbare misdade te mislei. (Maar daardie is ’n perd vir ’n ander dag.)
In die jare voor Christus het bekende Griekse filosowe reeds die “ingebore” kenmerke van leiers besing, terwyl die Klassieke Romeine leierskap binne die raamwerk van die keiser, as die alleen-oppergesag, verstaan het.
Meer na die Middeleeue – en Westerse leierskap was onlosmaaklik aan godsdiens gekoppel. Met die aanbreek van die industriële era was die fokus op outoriteit en beheer; waar daar ’n ideologiese verskil tussen die fabriekseienaar en die fabriekswerkers bestaan het (om die aap uit die mou te laat – die werkers is as blote “robotte” gesien).
Eers in die 20ste eeu is leierskap meer formeel bestudeer; en die rol en invloed van leiers op hul volgelinge is uiteindelik aan die groot klok gehang. Aanvanklik is leierskap as ’n eenrigtingstraat beskou, waar die individu in beheer, sy onderdane moes beïnvloed om beter werkers of ondersteuners te word.
Teen die 1970’s is daar egter groter ag op die rol van volgelinge in die leierskapverhouding geslaan, en navorsers het die term, volgelingskap, begin ondersoek.
Vandag word volgelingskap beskou as die proses waardeur volgelinge die invloed van leiers aanvaar om ’n gemeenskaplike doel te bereik. In die moderne era erken ons dat leiers en volgelinge twee kante van dieselfde munt is.
Leiers se gedrag dien as die konteks waarbinne volgelinge handel; in die werkskonteks kan leiers se optrede direk bepaal of werknemers by hul werk betrokke is of nie. Vele studies het al bewys dat werknemerbetrokkenheid weer ’n direkte invloed op die sukses en produktiwiteit van ’n onderneming het.
Leierskap is vandag ook nie meer net ’n eendimensionele veld nie – hedendaagse teoretici het al ’n magdom leierskapstyle bespreek en ondersoek – van transaksionele tot visionêre leiers, van demokratiese tot outokratiese leiers, van diensleierskap tot charismatiese leierskap, en van gedeelde leierskap tot innovasieleierskap.
Moderne navorsers beskou nie meer leierskap as ’n eksklusiewe ingebore gawe nie, maar meen ook dat dit iets is wat deur opvoeding en vaardigheidsontwikkeling aangeleer kan word.
Vandag gee ons verder erkenning aan “donker” leierskap, waar die negatiewe en selfs bose persoonlikhede van leiers onder die soeklig kom.
Een ding bly seker: leierskap is lankal nie meer ’n vervelige voetpaadjie in ’n verlate woud nie. Dis ook nie meer Robert Frost se “paadjie wat minder geneem word” nie. Dis ’n hoofweg van deelnemers, opinies en style, vol slaggate soos Windhoek se strate in die reënseisoen.
*Annemarie Schullenbach is ’n navorsings-, sake- en bemarkingskonsultant met ’n meestersgraad in besigheidsleierskap en veranderingsbestuur van die Namibië Universiteit van Wetenskap en Tegnologie. Sy het meer as 20 jaar se professionele ondervinding in die private en openbare sektor, in leierskap, strategie en navorsingsbepaalde belangstellingsvelde.
* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Network Media Hub (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie