Chris Jacobie
Chris Jacobie

Lente bring snoeikoue

Ek sê maar net (30 jaar gelede)
Mandy Rittmann
Chris Jacobie – Lente is in die lug en ’n mens sien dit in die gewoel en gewerskaf in tuine.

Snoeiskêre word ingelê en in radikale gevalle word byle aan stamme geslaan en sae sing dat dit blokke ver gehoor kan word.

Ek betrag nou die dag ’n aanslag op ’n jakarandaboom en dink onwillekeurig aan die dae van manshaarkappers toe ons ons hare net “getrim” wou hê en die haarkapper net borselkop kon sny.

Dit was amper soos die rolprente.

Daar was ’n styl vir onder 18’s en ’n styl vir bo 18’s. Die enigste verskil was dat bo 18 beteken het dat jy ’n aanduiding kon gee van waar gesny mag word, waar ’n bietjie gesny mag word en waar glad nie naby gekom mag word nie.

Onder 18 was rondom kort en as ’n bonus kon jy met ’n hap in die oor huis toe gaan.

Die aanvallers op die jakarandaboom se snoeikennis was minder as my eie gebrekkige kennis. Dat die boom nie uitgegrawe is nie is die raaisel van die hele snoeiery.

Elke enkele tak – dikker as ’n potlood – is teen die stam afgesaag en die drie stompies wat oorgebly het, het my aan napalm-bombardement op Cuvelai herinner.

In hierdie geval het die bome van Cuvelai ’n beter kans as die jakaranda om weer pers te blom.

Hierdie geraamte van ’n boom sal waarskynlik nie eens skaduwee aan ’n mier verskaf nie.

Daar was geen logiese verklaring vir die aanslag op die boom nie. Daar was nie ’n swembad in die omgewing nie. Die blomme kon dit nie bemors nie. Daar was nie plaveisel waar die perskolle van die blomme vir ewig spore onder voetsole kon los nie. Die boom was nie teen ’n muur nie. Sy sonde was dat hy daar was en die huiseienaar, maar voog van die boom, ’n nuwe saag wou uittoets, vuurmaakhout gekort het of selfs besig is met ’n genetiese eksperiment wat sal bewys dat daar lewe ná die dood is.

Die lente het lelike voorspooksels gebring van ’n Windhoek wat binnekort sal lyk soos die dorpe in die suide van Angola waar blomme plek maak vir mahango-lande en waar die bokke in die agterplase wei aan die vullis wat nie meer in sakke gegooi word om weggery te word nie.

Skielik het ek gewens dit sneeu weer sodat selfs die dapperstes onder die dapperstes nie waag om met hul snoeiprosesse te begin nie.

Dit was asof die boom wou sê die koue was warmer as die saag se lem.

Ek en die duiffamilie wou saamstem. – 18 Augustus 1994

Kommentaar

Republikein 2025-04-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer