No Image Caption

Liewers maar bang Jan

Sê maar net 30 jaar gelede
Mandy Rittmann
Gene Travers – Jy kry bang mense en jy kry dapper mense. Jy kry mense wat vir hul eie skaduwees skrik en jy kry mense wat dapper genoeg is om as skeidsregters by sokkerwedstryde op te tree.

Daar is niks mee verkeerd om ’n bang mens te wees nie. Bang mense is gewoonlik baie gawe mense, want hulle is bang hulle word dalk gefoeter of hulle kry dalk seer.

As ’n reël doen bang mense ook nie aansoek vir werk wat slegs deur dapper mense gedoen kan word nie. Net in Namibië werk dit blykbaar anders.

Nou weet ons al dat dit uiters gevaarlik is om ’n polisieman in Windhoek en veral Katutura te wees.

Polisiemanne in Katutura lewe daagliks in doodsgevaar en dis glo so dat sommige polisiemanne selfs in die nag wanneer hulle van diens af is agter die hangkas slaap pleks van op die bed.

In dié woonbuurt word elke twee polisiemanne wat voetpatrollie doen met 18 swaargewapende soldate voorsien om hulle in die uitvoer van hul pligte te beskerm.

Nou vertel ’n polisie-offisier my dat dit Vrydagaand weer gebeur het dat twee polisiemanne en 18 soldate die strate van Katutura patrolleer het toe ’n rampokker uit ’n verbygaande motor ’n skoot op hulle vuur.

Daar was chaos. Die 18 soldate het uitmekaar gespat en agter klippe, dromme, blikke en in slote en gate dekking gesoek terwyl net die twee polisiemanne bly staan het.

Die rampokker het weggejaag sonder dat ’n enkele skoot op hom gevuur is.

Nou weet ek nie of ek ’n bang of dapper ou is nie, maar ek moet sê dat ek daardie soldate wat Vrydagaand vir die naaste dekking geluiperdkruip het, glad nie kwalik neem nie.

As ek verplig was om in dié woonbuurt patrolliewerk te doen, sou ek ’n skopgraaf saamgeneem het om my eie loopgraaf te grawe indien iemand op my losbrand. ’n Mens word soms bang om helder oordag in Windhoek se strate te loop, as jy sien met watter gevaarlike messe sommige van die tsotsies mee rondloop.

En dan sê hulle ons lewe “In the land of the brave”!

Dit help ook nie jy is ’n dapper man as ’n bende jou van agter pak, bewusteloos slaan en by die vullishope gaan gooi nie. Dit help ook nie jy is ’n dapper persoon, maar jy is ’n vrou en boonop nog 80 jaar oud nie.

– 8 Desember 1993

Kommentaar

Republikein 2025-04-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer