Lot van Rekenaar-piet
Hein Bertram – “When Constabulary Duty’s to be done (to be done), a p’liceman’s lot is not a-nappy one (happy one),” skryf sir Arthur Sullivan in The Pirates of Penzance.
Gelukkige mense, dié Gilbert en Sullivan. Hulle het darem nie met rekenaars te doen gehad nie. Anders sou hulle Shakespeare se tragedies tot in die afgrond oorskadu het. Sowaar.
In ’n boek oor sendingwerk skryf ’n resensent dat elke firma sy “troubleshooter” het wat net ingeroep word as daar fout kom.
Hy’s reg, maar dié kriterium geld nie vir die rekenaar-piet nie. Dié word uitgetrap as daar fout kom, of selfs as dit lyk asof daar fout kom. Dan is die gort nie net gaar nie, jy ruik die gortbrandsel al van doer af voor jy daar aankom.
Stel jou voor: ’n benoude verslaggewer bel my werkplaas toe terwyl ek met soldeersel in my mond, ’n soldeerbout in my linkerhand en ’n piesiebord in my regterhand staan.
“Hein, jy moet NOU kom help! My rekenaarskerm is dood.
“Raait, “ adviseer ek, “skakel asseblief drie-sewe-agt-vier-vyf. Intussen sal ek my goeters neersit en deurkom na jou toe.”
“Maak net gou!”
Nou maar goed. Daar aangekom, word ek eers uitgeskel omdat ek Avbob se nommer vir ’n verslaggewer gee omdat hy oor sy dooie rekenaar kla. Dan kyk ek of die monitor se kragdraad in is. Dit is.
Tweedens kyk ek of die monitor se skakelaar ingedruk is. Dit is nie. Ek druk die knop in, swets binnensmonds en vertrek terug na my Diogenesvat toe. Skaars is die soldeerboutjie warm of die telefoon lui weer. Natuurlik is dit dringend. Piet Pompies kan nie ‘syf’ op sy ‘floppie’ nie.
Goed, ek kom.
Kyk die slapskyf aan, kyk die rekenaar aan. Probleem opgelos. Dit is nou maar eenmaal so dat jy nie ’n hoëdigtheidslapskyf (Afrikaanse neologisme vir ’n haaidénsittie-floppie) op ’n XT met ’n gewone 360k-aandrywer kan gebruik nie. Dan moet ek nog hoor dat ek lieg, want hy HET dan gewerk – op Chris se masjien.
Nou wat op dees aarde het hy by Chris se 386 verloor? wonder ek terwyl ek sy slapskyf omruil met ’n gewone en dit vir eie gebruik inpalm.
Noudie-oggend moet ek na iemand se rekenaar kyk. Dié het gevries. Geen wonder, dis dan so koud deesdae. Wag tot tienuur, dan probeer jy weer.
Verontwaardiging begroet my; eerder bedreiging. Ek stel ondersoek in. Hoerê: ’n REGTE rekenaarfout. Die stelselkaart het, um, wel, sy rektale ringspier gade geslaan om dit kwasie-medies uit te druk.
Mooi. Nuwe stelselkas, nuwe stelselkaart, ander monitor, ander monitorkaart (die vorige een het ’n ingeboude aandrywer vir sy monitor gehad), starskyf insit, toets: nou-go.
Af werkplaas toe. Stelselkaart se boekie, diagnostiese program se blaadjie, ander goeters – ongelukkig geen halfjek in die yskas nie (ek besit geen van beide) – en terug boontoe. Aha. Jampertjie het op een en twee gesit, terwyl hy op pennetjies twee en drie moet wees. Ingeprop, aangeskakel, starskyf se premmiters gestel en bops-jer-ankel.
Rekenaar aan, kyk wat is op die hardeskyf: mooi, alles daar. Ek gaan af ondertoe om die goeie nuus mee te deel.
“Môre, hoe gaan dit?” vra ek beleefd aan iemand van die teenoorgestelde geslag wat verbykom.
“Sleg! Jy het mos Piet Pompies se hele dokument wegggegooi!”
Dan wonder die mense hoekom ek ‘n monnikesel by Berg Athos wil bespreek?
– 12 Julie 1994

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie