Malvalekker
Ons taal
Iemand het gesê dat ‘n mens se wese sterf die dag wat jy ophou leer. So, ons moet eintlik almal immerstudente wees (ongeag die grootte of die inhoud van die brokkie inligting) wat daagliks ietsie nuuts soos ‘n snoephappie soek vir ‘n gevoel van genoegdoening. Ons het in die huishoudkundeklas geleer: ‘n smaakvolle maaltyd moet afgesluit word met ‘n happie of slukkie wat die kersie op die koek is. Ek dink as ons nie daagliks ietsie verkwikkends van ons taal geniet nie, raak dit net ‘n gebruiksartikel in plaas van ‘n lekkerny! Genoegdoening verwarm my wese elke keer wat iemand ‘n nuwe woord skep, of bloot ‘n nuwe kinkel in ‘n woordkabel draai. Woordspelings is deel van die spelifiëring van die lewe. Ons spelifieer die lewe wanneer ons die pret daarvan uitlig, wanneer ons iets wat alledaags en geroetineerd is omskep in ‘n lekkerte. Soos Langenhoven se Werkreseppie sê: Dis die smorende vuur wat swaarkry, en tog nie die kos kan gaarkry. – Die vrolike vlam wat klap en kraak is hy wat sy taak tot vermaaklikheid maak en sy swaarkry met lekkerkry klaarkry. My Engelse woonstelmaat op universiteit was mal oor die woord malvalekker. Dit was haar troefkaart as iemand gedink het hulle moet met haar Engels praat. Deesdae hoor ek die woord nooit. Dis net marshmellows, maar dit word tog redelik Afrikaans uitgespreek maasmellous. Ek sien die groot versoekings wink alweer oral op die rakke: maasmellou paaseiers, of sommer paasmellous!
Petronella Genis
Vakgroep Afrikaans
Universiteit van Namibië
[email protected]
Petronella Genis
Vakgroep Afrikaans
Universiteit van Namibië
[email protected]
Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie