Ma’s
Hester Steenkamp – Ons kla dikwels oor spesiale dae wat deesdae gekommersialiseer word. Geen mens kan eers amper wil vergeet dat Valentynsdag om die draai is nie, want oral waar jy kyk, sien jy net hartjies en blommetjies en teddiebeertjies. Geen man kan die verskoning gebruik dat hy vergeet het nie. Daardie skippie sal nie seil nie. Die winkels laat jou nie vergeet nie. Valentynsdag-liefde is egter iets wat nie altyd vir altyd is nie. Dis ’n liefde wat dikwels ophou, of weggaan, of doodgaan. Dit is soms ’n tydelike soort liefde.
Moedersdag is egter heeltemal ’n ander storie. Dit vang ons dikwels onkant, want dit word nie so in jou keelgat afgedruk nie. Ek moes verlede jaar Google om te sien wat die datum van Moedersdag is. Toegegee, ons kom nie baie gereeld in winkels nie, maar selfs op TV sien jy heelwat minder advertensies oor Moedersdag as oor Valentynsdag. Tog is dit nou die een soort liefde wat juis gevier moet word. Dis juis ’n liefde wat nooit ophou of weggaan of doodgaan nie. Dis ’n liefde wat altyd vir altyd is.
Dis by ons ma’s wat alles begin het. Alles wat jy weet en alles wat jy is, het in haar arms begin. Ma’s en liefde is mos basies een en dieselfde ding.
Om ’n ma te wees is wonderlik, maar om ’n ma te hê, is nog beter. Dis die beste. Niks kom by die liefde wat ’n ma vir haar kind het nie. Dis onmeetbaar groot. Dis allesomvattend en allesoorheersend. Groter as groot en dieper as diep en wyer as wyd. Om saam met jou ma ’n koppie koffie op ’n stoep te drink en onthou-ma-nog-die-dag-gesprekke te hê, is van die grootste voorregte wat daar is. Ons het net heeltemal te min daarvan.
Daar is niks op hierdie blou aarde wat ’n ma nie vir haar kind sal doen nie. Sy is die een mens wat altyd daar vir jou sal wees. Altyd. Selfs wanneer jy aangejaag het, sal sy by jou staan. Sy het jou nie net lief nie, sy het jou lief, lief, lief. Onvoorwaardelik lief. Sy is lief vir jou met al jou foute en geite en giere. Selfs wanneer jy dit eintlik nie verdien nie. Selfs wanneer jy jou buie op haar uithaal. En selfs wanneer jy haar seermaak.
Sy is die een wat jou sal herinner aan hoe spesiaal jy is, en dat jy net die beste verdien, en sy glo dit uit die diepte van haar hart. Sy gun jou die wêreld. Sy sal wakkerlê tot jy veilig terug is in die huis.
Sy sal die telefoon antwoord, maak nie saak hoe laat dit is nie. Sy sal opstaan om jou te gaan haal, al is dit nag. Sy is die een wat vir jou die moeilike vrae vra en sal sê wat jy moet doen, al wil jy dit nie doen nie. En sy sal vir jou sê wat jy moet hoor, al wil jy dit nie hoor nie.
Sy is die een wat jou aanmoedig en opbou en ondersteun. Sy sal opdaag en in jou glo. Sy sal vir (en op!) jou skree langs die sportveld en sorg dat jy die mooiste lyk by jou matriekafskeid en troue. Sy is die een wat vir jou sal aanhou bid. Sy sal bid tot die bloed loop. Sy sal haarself afskeep om vir jou te gee wat jy graag wil hê. Sy sal opoffer vir jou. Sy sal jou optel as jy geval het, afstof en al die einas wegsoen. Sy sal bloed uit ’n klip tap as dit is wat dit sal verg om jou te help. Haar liefde sal nooit ophou nie, al skeep jy haar af, of raak jy te besig, of bly jy te ver.
Dis goed dat daar ’n dag uitgesit is waarin ons ons ma’s kan bederf. Bederf haar met omgee en liefde en tyd. Veral tyd. Gaan bederf haar op hierdie Moedersdag, en dan elke dag daarna. – Gasskrywer
– [email protected]
* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie