Medemenslikheid in die tye waarin ons leef
Wiesie Kotzé – Vanoggend op pad werk toe lê daar skielik ’n man met sy fiets in die middel van die kruising.
Dit was nie duidelik of iemand hom raakgery het en of hy geval het nie. Toe die verkeerslig groen slaan, het die string voertuie al hoe nader gekruip om beter te kan sien.
Die man het ’n blou werkersoorpak aangehad, en sover ek kon vasstel, het dit gelyk of sy fiets oukei was. Toe ek weer sien, het ’n vrou by hom gestaan. Die volgende oomblik het ’n man by haar aangesluit omdat dit gelyk het of sy nie genoeg krag het om die man op te help nie. Nie lank daarna het nog ’n vrou by hulle aangesluit om te kyk of sy kan hand bysit. Teen die tyd dat ek oor die kruising gery het, het al drie die helpers die man tot op die sypaadjie en uit die verkeer gehelp. Die toneel het my hart aangeraak.
Ek is skielik teruggeneem na waar ek in Pretoria as jong student ’n dwase besluit geneem het. Ek het per ongeluk voor ’n motor by ’n kruising ingedruk. Die verkeerslig het van oranje na rooi oorgeslaan.
’n Blok verder is die verkeerslig weer oranje, en voor ek my kon kry, het die bestuurder van dié voertuig my ingehaal. Hy het my vasparkeer, uit sy motor geklim, woedend aan my venster gehamer en aan my deurhandvatsel gepluk. Ek was lam van skok en het net voor my uitgestaar. Die man was duidelik bitter kwaad. Ek was jammer vir wat ek gedoen het, maar ek het in daardie stadium werklik vir my lewe gevrees.
Nog ’n herinnering flits voor my; een waar ek die eerste keer Hentiesbaai vir my ma gaan wys het. By die Total-vulstasie kom ’n onbekende vrou doodluiters na ons toe aangestap en vra: “Ek sien julle ry met ’n Windhoek-registrasienommer. Is julle dalk op pad terug Windhoek toe? Ek het ’n pakkie wat ek vir my dogter moet stuur.”
Die tannie se voortvarendheid het my laat lag, en daar laai ek sowaar haar pakkie in en ons ry.
My ma, net soos ek ’n Suid-Afrikaner, kry omtrent die aapstuipe.
“My kind, dit kan net sowel ’n bom of dwelms wees wat sy saam met jou stuur!”
“Ontspan Ma, dis Hentiesbaai en Namibië,” het ek geantwoord.
Oor die jare, soos ons dié storie vertel het, het ’n hele paar stories uitgekom van iemand se ma, ouma of tannie wat nie vir koerierdienste wou betaal nie en by die einste vulstasie mense trompop geloop het om ’n pakkie tot in Windhoek te kry.
Die sêding, om baie tyd vir iemand te hê, beteken definitief iets anders in Suid-Afrika as in Namibië.
Dis ’n absolute voorreg om in ’n land soos hierdie te mag woon, waar mense instinktief hul medemens in nood help. Ek dink nie ons waardeer dit genoeg dat ons geen vrees het om ons medemens te help nie; dat ons nog voel ons het tyd vir ons medemens.
My boodskap is ongelukkig een met twee kante van ’n muntstuk.
Net vandag het ek gehoor van ’n paartjie wat by hul huis suid van Windhoek aangehou is. Gelukkig het die paartjie kalm gebly en is nie aangerand nie.
Die aanvallers het glo om verskoning gevra omdat hulle geen ander keuse gehad het nie, en met die uitloopslag het hulle na bewering gesê: “Let this be a lesson to you. You are not careful. The doors are standing open, we have been watching you for two days now.”
Mag die toenemende geweld in Namibië ons nie ontneem van ons medemenslikheid nie. Mag ons terselfdertyd waaksaam bly, en nie in vrees lewe nie.
Mag ons veiligheid en sekuriteit handhaaf omdat ons ook maar in Afrika woon en dit ons ongelukkig nie vrywaar van kansvatters wat ons vry leefstyl wil misbruik vir hulle eie gewin nie.
Aan die drie helpers van die fietsryer – julle is raakgesien en julle goedhartigheid word hoog geag deur julle medemense. – Gasskrywer – [email protected]
* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie