No Image Caption

Mense met vroom gesigte

Hierdie het al verlede jaar gebeur, maar elke keer as ek daaraan dink, dan word ek sommer van voor af kwaad.

In 2019 moes ek noodgedwonge nuwe bande koop. Soos die meeste mense het ek die wêreldvol gebel om uit te vind waar ek die beste prys kan kry. En ek wou ’n spesifieke handelsnaam hê.

So het ek toe na ’n bekende bandeplek in die noordelike nywerheidsgebied gegaan om my “duursame” aankope te doen. Hul diens was baie goed, soveel so dat ek weer vir ander dienste terug na hulle toe gegaan het. Die vriendelikste mense, mense wat jy voel jy kan vertrou.

“Fast forward” na die einde van 2023. Ek en my seun is die Donderdagaand op pad huis toe op die westelike verbypad toe ons skielik ’n aardige geluid hoor. Ek dog ek het oor iets in die pad gery. Ons het in die vinnige baan gery.

Ek weet nie wie die grootste geskrik het nie, ons of die bestuurder agter ons. Want sien, wat toe nou gebeur het, is dat die loopvlak van die band heeltemal afgekom het. Dit het beteken dat dié stuk rubber “mincemeat” van alles in sy pad gemaak het.

Kyk, vandag se karre is van plastiek aangemaak gesit. Maar ek moet ook seker in ag neem dat daardie stuk rubber met ’n redelike vinnige spoed gedraai het. Die swart stuk onder die kar was los, die kar self het ’n paar duike in gehad en die sensor agter op die kar om jou te help om nie in iets vas te ry nie, was in sy “glory” in.

Net die vorige week het ek gesê ek weet nie wat ek sonder dié sensors sou doen nie. Ek moet leer om nie alles wat ek dink hardop te sê nie. Hoe sê my kinders altyd, ek “jinx” dit.

So het ek die volgende dag die motor na die paneelkloppers gevat om kwotasies te kry. Ek het toe ook besef niks is meer goedkoop in vandag se lewe nie.

Toe is dit weer tyd om ’n band te soek. Die ander bande kon volgens my nog ’n redelike afstand aflê of so het ek gedink.

Ons het die Vrydagoggend na bandeplekke gery om pryse uit te vind. Ek het weer teruggegaan na my “vriendelike mense” toe en hulle het vir my ’n kwotasie gegee. ’n Vriend het my toe vertel hy het ’n rukkie terug ’n ander handelsnaam by ’n ander bandeplek gekoop en hy was baie tevrede met die bande.

In die verlede – toe die geldsake nog geklop het – sou ek seker gesê het ek gaan weer dieselfde handelsmerk koop, maar in vandag se ekonomiese omstandighede kan ek nie meer so kieskeurig wees nie.

Ek besluit toe om ’n paar honderd dollar te spaar en na die ander plek te gaan. Sakkie wat my gehelp het, vra my toe of ek geweet het die jaar waarin ’n band vervaardig is, word aan die binnekant van die band aangeteken. Dit was die eerste keer dat ek daarvan gehoor het.

Toe hy die spaarband afhaal, wys hy vir my die datum op die band is 2014! Ek het die bande eers in 2019 gekoop. So dit beteken die bande was al omtrent vyf jaar oud voor hulle dit aan my verkoop het, en verlede jaar al amper 10 jaar oud!

Soos julle julle kan indink, was ek bitter kwaad, want daardie mense dink nie aan die nagevolge nie.

Soos ek verstaan, kan handelaars nie bande na die vervaardigers terugstuur nie, dus ly hulle ’n verlies net omdat hulle nie behoorlik kan beplan nie. So die volgende stap om van die ou voorraad ontslae te raak, is om dit aan onskuldige kliënte te verkoop, maak nie saak wat die gevolge is nie.

Ek het daaraan gedink om terug na hulle te gaan en hulle mooi te vertel wat ek van hulle dink, maar ek het toe nie.

Nou wil ek net onder almal se aandag bring dat hulle voor hulle bande koop, moet vra om die jaar op die band te sien. Dit mag dalk jou lewe red.

* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2024-12-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 20° | 34° Eenhana: 20° | 32° Oshakati: 22° | 31° Ruacana: 21° | 33° Tsumeb: 21° | 32° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 22° | 32° Gobabis: 19° | 33° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 16° | 23° Rehoboth: 24° | 34° Mariental: 24° | 36° Keetmanshoop: 25° | 37° Aranos: 21° | 34° Lüderitz: 16° | 27° Ariamsvlei: 25° | 39° Oranjemund: 15° | 27° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 18° | 23° Lubumbashi: 17° | 31° Mbabane: 15° | 23° Maseru: 15° | 31° Antananarivo: 17° | 34° Lilongwe: 23° | 34° Maputo: 21° | 29° Windhoek: 22° | 32° Cape Town: 18° | 28° Durban: 20° | 24° Johannesburg: 16° | 25° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 21° | 31° Harare: 19° | 29° #REF! #REF!