No Image Caption

Met ’n swaar hart sê ek tot siens

Tanja Bause
Sowat 28 jaar gelede het ek vir die eerste keer in die destydse Sondagkoerant, Tempo, se nuuskantoor as ’n fotograaf ingestap.

Ek het níks van joernalistiek geweet nie.

Die legende oom Des Erasmus het in die onderhoud gesê: “Maak altyd seker jou wie, wat, waar en wanneer is beantwoord en dat die antwoorde 100% feitlik korrek is. Gee vir die mense jou notaboek sodat hulle hul eie name kan neerskryf. In jou kop is daar dalk net een skryfwyse vir Smit en Shambwangala sal jy tien teen een verkeerd spel. Niemand wil die koerant oopmaak en sien hulle naam is verkeerd gespel nie. Vir die taalfoute en versorging het ons bekwame subs wat al die foute regmaak.”

Oom Des het my onder sy vlerk geneem en my geleer om te skryf, die etiek van joernalistiek, die ongeskrewe reëls en dat “jy nooit deel van die storie is nie”. Ek sou nie al die duisende mensestorie kon geskryf het as dit nie vir hom was nie.

So het ek begin en vinnig was ek soos hulle in Engels sê “hook, line and sinker” vasgevang in die wonderlike wêreld van joernalistiek. Republikein het Tempo oorgeneem en dit is hoe ek daar begin werk het.

Ek het ook begin skryf en soos elke junior het ek doodsberigte, mediakonferensies en tjekoorhandigings gedek. Ek het altyd gepoog om die beste foto’s te neem. Foto’s wat mense sal aanmoedig om die storie te lees. Soos byvoorbeeld ’n tjekoorhandiging aan die DBV. Ek het nie die mense afgeneem nie, al wou hulle hoe graag op die foto wees. Ek het gevoel ek wil nie net ’n storie lees oor ’n klomp mense wat met ’n reuse-tjek staan nie. Ek het die tjek opgerol en ’n katjie daarin gesit en gewag dat sy uitkom.

Ek was in daardie eerste jare ook hoofsaaklik die koerant se fotograaf. Ek het begin stories skryf toe ek na The Namibian geskuif het en in Engels kon skryf. Dit is hier waar ek my passie vir mense ontdek het en om hulle stories te vertel. Ek het geweet ek het my doel in die lewe gevind.

Ek is mal daaroor om onder ’n boom of op ’n sagte rusbank in ’n mooi sitkamer te sit en met mense oor hulle lewens te gesels; om hulle unieke stories te vertel. Ons het in hierdie land duisende unieke, wonderlike mense. Mense wie se stories ander kan inspireer, ophef en uit die diepte van die maag kan laat lag. Mense wie se stories vertel moet word en ek hoop van harte dat iemand hulle stories sal neerpen.

Nege jaar later is ek terug na die destydse DMH – eers by die Allgemeine Zeitung (AZ) en toe terug na Republikein.

By die AZ is my passie vir mense ietwat gedemp omdat die koerant ander stories wou hê en mens is mos maar aanpasbaar.

Terug by Republikein kon ek weer oor my mense skryf, veral nadat my destydse nuusredakteur Ronelle Rademeyer my aangemoedig het om ’n “Ons Mense-blad” te begin.

Ek was in die sewende hemel toe Henriette Lamprecht, wat die leisels by Ronelle oorgeneem het, my vra of ek elke dag ’n positiewe, goedvoel- en lekkerleesstorie vir die voorblad sal skryf.

Hulle het verstaan waarvan ons leser hou en wat hulle graag wil lees. Ronelle en Henriette het nie net ons lesers geken nie, maar ook vir my en geweet hoe om storie na storie en later video na video sonder moeite uit my uit te kry.

Ek was ook soos al die jare die hooffotograaf van die koerant. Tot vandag toe kom my kollegas van die AZ, Namibian Sun en Republikein na my toe en vra: “Het jy nie ’n foto vir Valentynsdag nie? ’n Foto van ’n woestynaangepaste olifant of van die Heldeakker nie?”

Natuurlik het ek omdat ek altyd my kamera by my het en altyd ’n foto sal neem met die gedagte dat iemand die foto eendag dalk kan nodig kry.

Vir ’n goeie joernalis is daar in elk geval nie so iets soos “af wees” nie. Jy sal altyd die foto of die storie raaksien en dit afneem of skryf.

So nou ná 28 jaar groet ek met ’n swaar hart. Ek gaan julle wonderlike mense van die land ongelooflik mis en ek is ontsettend jammer dat ek nie die kans het om julle storie ook te vertel nie.

Wil ek gaan? Nee. Is my werk gedoen? Nee. Is ek ongelooflik hartseer? Ja. Moet ek gaan? Ja, vir my eie sielsrus en “sanity” moet ek ongelukkig nou tot siens sê. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!