Oom Des
Oom Des

Min woorde se baie sê

Sê maar net 30 jaar gelede
Des Erasmus
Immer het ek gemeen Goue Woorde is hierdie vergeet-my-nietjies wat op kaartjies gedruk word waarop blommende rankrosies die some trek.

Nou die dag het ek nog een bygekry met die dood van ’n bejaarde dame wat baie naby my was. Troos was daar in elk geval ingebou, want sowat drie jaar lank het sy in die skemer van die lewe deurgebring. Dit was effense jare waarin die angel van die graf geknip was.

Toe stuur iemand uit die Transvaal ’n boodskappie – iemand wat ek net langs ’n omweg van weet. “Die dood is nie die afskakeling van die lig nie, dis net die uitblaas van die lamp – omdat die dag gebreek het.”

Ek het gemeen dis die soort Goue Woorde.

Namate daar na die kort onderbreking na die spoor teruggekeer word, lees ek in hierdie kolomme rond dat die prys van telefoonoproepe verhoog het. Waar dit eens in rande en sente per woord gemeet is, gaan dit blykbaar nou per letter geld kos.

’n Goeie ou tante Laurie van my het lank gelede geleer dat jy ver van huis en haard net 20c nodig het om te weet dat alles reg is. Voor jou vertrek rig jy die huishulp af. Sou jy skakel, sê jy net “Laura”. (Oumies is mos uit).

Al wat sy sê is “reg”.

Dan volg piep-piep-piep en g-r-r-r. (Dis die kode dat 20c se praat verorber is).

Die nuwe telefoongeld gaan meebring dat die kode verander moet word, want vir 20c gaan jy nie eens die “mie-“ van “miesies” inkry nie.

Telefoonhokkies het die bynaam van tiekieboksies gekry. Tiekieboksies sal dit bly, hoewel name soos randvreter baie beter daarby sal pas. In die algemene omgang het tiekieboksies egter baie meer as net die geleenthede tot telefoongesprekke gekry. Dis onder meer uitstekende rigtingswysers. “Regs met Dromedaris-weg af tot waar jy die tiekieboks op links kry ...”

Tiekieboksies het ook in ander spreuke uitgeslaan. Wanneer twee swaargewigboksers aanhoudend teen mekaar staan en stoei, word gesê die geveg kon net so wel in ’n telefoonhokkie plaasgevind het.

Nou kan dit wees dat die pryse moet styg om op te maak vir die “langtiekies” wat veral in kosskooldae so algemeen was. Dis nou wanneer die gleuf met ’n naelvyl of ’n muntstukkie aan ’n garedraadjie gepomp word sonder dat daar aanwas van kontant in die geldtrommeltjie is.

Maar daarvoor is die poswese mos hoeka vergoed met van die hokkies wat net die geld gesluk het, maar geen gesprek gekoppel het nie. Selfs die “one arm bandits” het groter genade. Hulle gee darem soms so ’n ietsie terug en sluk nie net nie.

Om te bespaar, sal nuwe kodes uitgewerk moet word. Soos die ou en sy nooientjie se begrip vir net die letters VVV met ’n daaropvolgende VVVVVVV.

Maar al kos dit ook ’n pond, ’n tiekieboksie sal hy bly. – 30 Junie 1992

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!