No Image Caption

Modeparade is nie vir almal nie

Thusie Gamibes
Met my ondervinding vroeër met die koop van nuwe klere (wat ek genadiglik net een of twee keer per jaar hoef te doen), het ek weer eens oor iets begin wonder. Hoe kry vroue dit reg én kom daarmee weg om daagliks klerewinkels te besoek, aan te pas, hulself in ’n spieël te bewonder en dan die aankoop te doen. Vir my is dit ’n frustrerende en selfs sielsdodende ervaring.

Ek kry net nie vat aan die proses om klere te koop nie, want die verskeidenheid om van te kies is net té veel. ’n Mens kry Afrikadrag , formele drag en ontspanningsdrag. Goeiste!

Al is ek nou nie meer ’n jongeling nie en al het ek weer een van die dae nog ’n jaar agter die rug, is ek nou nog nie gekonfyt met dié soort aankope nie.

Daar is modes, grille en giere waarvan ek nog nie eens bewus is of van gehoor het nie.

So dink ek aan ons voorouers dekades gelede. Wat sou hulle gesê het as mans selfs rokke en allerhande vreemde klere kon dra? Of dat daar nie veel verskil is tussen wat mans en vroue aantrek nie?

Gits, ek vermoed my oumagrootjie sou ’n oorval kry.

Ek het niks teen mode nie, nog minder teen vandag se lewe. Maar wat ek in die laaste tyd in sommige Windhoekse klerewinkels en selfs op straat sien en beleef, kan ek maar net wonder waar dit alles gaan eindig.

Ek het onlangs die klerewinkels ingevaar op soek na ’n nuwe bloes, maar daar was net die sogenaamde “crop tops”.

Wat het geword van lang bloese waarmee jy jou hele liggaam kan toemaak? Dis toe ek besef ek is uit voeling met vandag se vrouemodes. Ek is as’t ware genoodsaak om nuwe klere te begin aanskaf.

Tot onlangs het ek geglo mode is ’n truuk waarmee klere-ontwerpers die skoner geslag vang om ’n groot hap uit hul beursies te vat. Om my vrees vir die koop van klere nog erger te maak, is my “size” amper nooit te vinde nie. Arme ek. ’n Vriendin sê toe sy weet van ’n oulike plekkie wat net die regte klere vir ons grootte verkoop.

Daar opgedaag is die pryse ook net so mooi groot soos my “size”. Die prys van die vreemde vere was beslis nie in die regte klas vir my nie.

Ek voel heel tevrede en gelukkig in my ou jannas met ’n T-hemp en my gewone klere (teen gewone pryse). Een ding is vir seker, dit is tweede natuur vir ons vroue om vir elke geleentheid ’n nuwe rok te wil koop. Die rok wat ek twee maande gelede na my vriendin se troue gedra het, is nou te oud.

Mode sal altyd ’n besprekingspunt bly, maar ek gaan nie deur iemand anders aangesê word wat ek moet dra en hoe ek dit moet dra nie. Basta daarmee!. Ek sukkel reeds om my klererekening se betalings op datum te hou met my seun wat nog besig is om te groei.

Ek reken dit moet soms lekker wees om ’n alleenloper te wees met die wete dat jy alleen oor jou geldsake en klerekas kan besluit en daaraan kan toevoeg of wegneem sonder om ander mense in ag te neem.

Veral as jy alleen kan besluit oor die geld waarmee jy dit doen. Laasgenoemde gedagte het by my opgekom nadat ’n alleenlopervriend een keer probeer het om my terug in die mode te kry. Om my in die regte bui te kry, het hy my op ’n klerekoop-uitstappie saamgenooi. Volgens hom sou ek dan self sien hoe die modebase oormekaar val om ’n man te bedien wat modesmaak het en wat geld se baas is. Aitsa! Ag, maar dis nou weer ’n storie vir ’n ander dag.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!