Gene Travers
Gene Travers

Mooi lyk verg vasbyt

Ek sê maar net 30 jaar gelede
Mandy Rittmann
Gene Travers – Ek kyk nou die dag so om my rond en merk dat feitlik al my vriende en manlike kollegas of snorre of volbaarde dra. Ek is die enigste een met 'n gladde bolip wat soos ’n paal bo water uitstaan en dit is dan seker ook daarom dat ek nie vanjaar ’n Valentynskaartjie gekry het nie.

Ek besluit toe ook sommer net daar en dan om ook ’n snor te groei, maar dit is nie so maklik soos dit lyk nie.

Vroue bestee glo baie tyd en geld aan kosmetiek om vir mans mooi te lyk, maar ek kan hulle nou die versekering gee dat mans ook soms baie moet deurmaak om vir hulle aantreklik te lyk.

Die eerste drie dae van my snorgroeiery het goed gegaan, want jy kon byna niks sien nie. Die vierde dag het dit begin lyk of ek nie my bolip gewas het nie en die vyfde dag het die ding begin jeuk.

Ek het by my pêlle begin rondvra hoe lank dit neem voordat ’n man se snor nou eintlik na ’n snor lyk en hulle raad was dat ek moet vasbyt.

Ek het vasgebyt en vasgebyt, gekrap en getrek. Ek het lang oomblikke voor die spieël gestaan en gewik en geweeg of ek die stoppels moet afskeer of nog ’n dag langer moet kans gee. Maar hier ná sowat twee weke, toe die ding soos ’n veldbrand begin lyk, het ek vasberade voor die spieël gestaan en die ding afgeskeer. Party van ons is net nie daarvoor gemaak om snorre of baarde te dra nie.

Vroue kan dus maar bly wees dat hulle net tyd en geld moet opdok om mooi te lyk en die sterre dank dat hulle nie snorre hoef te groei nie.

Stel jou voor Nora Appolus verskyn op die televisie om die nuus te lees met so ’n groot weglê-snor soos Wyatt Earp se groeisel of met ’n volbaard soos Nahum Gorelick.

Nou lees ek ook van die nuwe skoonheidskliniek wat in Windhoek oopgemaak het waar jy deur middel van elektriese mikrobestraling sommer in ’n kits twintig jaar jonger sal lyk.

Mans met snorre moet twee keer dink voordat hulle vir dié behandeling gaan. Dit gaan nie help jy lyk soos ’n seuntjie van twaalf met ’n yslike grys snor of ’n volle bosbaard nie.

Kan jy jou voorstel ons president land op een van sy oorsese reise in ’n vreemde land terwyl hy soos ’n sestienjarige seun lyk met daardie pragtige wit bosbaard?

Die mense wat hom daar ontvang, sal seker dink hy is die jongste miljoenêr ter wêreld wat baie hard gewerk het om so ’n mooi luukse straler te kon bekostig.

René van Dyk is ’n skoonheidskonsultant daar van Gochas se wêreld. Die afgelope naweek het sy my gesig met skoonheidsmiddels behandel en ek moet sê dit is nie lekker om te skeer nie, maar om deur ’n mooi vrou met skoonheidsmiddels behandel te word, is baie lekkerder as om ’n snor te groei.

– 22 Februarie 1995

Kommentaar

Republikein 2025-04-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer