Iréne-Mari van der Walt
Iréne-Mari van der Walt

Môre se fondasie en boublokke

Irene Van Der Walt
“Vandag se kinders sal nooit die swaarkry besef wat ons in die ou dae deurgemaak het nie”, en ek is bly vir hulle.

Ek het vir jare lank myself forseer om dinge soos ’n “normale” mens te doen. My geheue was nog altyd een van my swakpunte, en tot op die ouderdom van 21 het ek myself verafsku omdat my geheue nie so goed soos ander mense s’n was nie.

Toe is ek met ADHD gediagnoseer en skielik maak alles sin – ek sukkel om te onthou, soms kan ek glad nie konsentreer nie en soms is my fokus onbreekbaar. Sekere kosse en disse kan ek nie afwurg nie, want die tekstuur maak my gek.

’n Paar maande later kon ek aan myself erken ek het ’n stelsel nodig om te onthou.

’n Jaar gelede het ek probeer om net soos die miljarde mense op aarde te onthou – hoekom kan ek nie soos hulle wees nie?

Maande na my diagnose kon ek myself nog nie kry om my huis te “ADHD-proof” nie, want hoekom kan ek nie net ’n gewone mens wees nie?

Een Sondag besluit ek egter dis nou tyd om my leefruimte my eie te maak en binne enkele ure gee ek ’n yslike sug van verligting. My leefruimte én my lewe is na etlike jare uiteindelik my eie.

Skielik wonder ek hoekom ek dit nie vroeër gedoen het nie? Ek het nog altyd geweet ek vergeet van items as ek dit wegbêre; hoekom het ek nog altyd gedweë aanvaar om te sukkel? Hoekom wil ons só graag normaal wees? Hoekom laat ons toe dat dit selfs die privaatheid van ons eie huise deurmekaarkrap?

As jy jou mure met krytverf moet verf om jou lysies daarop te skryf sodat jy nie jou take en inkopies vergeet nie, doen dit. Hoekom wil ons sukkel net omdat dit die norm is?

Ons ouers vertel graag die lewe was so moeilik toe hulle ons ouderdom was en niemand het ADHD of angs of depressie of enige kopsiektes gehad nie. Ons het glo net kopsiektes omdat ons “sag” grootgemaak is.

Ek is so bly dat julle ’n rede het om julself slagoffers te noem, maar is die punt van vooruitgang nie dat ons kwale nie vir die volgende generasie ’n beslommernis is nie?

Die mensdom sit aan die troon van ons ekosisteme, nie omdat ons daaraan gewoond geraak het om leeus en wilde diere met ons kaal hande te vernietig nie, maar omdat ons geleer het om gevare uit te hou.

Waar een generasie in huthuise gebly het, het die volgende baksteenhuise gebou. Toe ons baksteenhuise goed genoeg was om die natuur te verdryf, het ons begin kyk na elektrisiteit en meubels.

As ons ophou vooruitgaan, verloor ons die een ding wat ons mens maak. Niks wat die mensdom se vooruitgang bevorder het, was ooit normaal nie; van fietse tot motors en talkie-films. Mense het nog altyd gedink dit wat nuut is, is eienaardig.

Skrywer Malcolm Gladwell beskryf hierdie idee deur die Herman Miller Aeron-stoel – ’n wonderwerk vir ergonomie – te gebruik. Toe marknavorsing vir hierdie stoel gedoen is, het die prototipe allerhande kritiek uitgelok. Die stoel was volgens die oorgrote meerderheid heeltemal te lelik om ooit te oorweeg ten spyte van die reuse-gesondheidsvoordele.

Vandag word derduisende stoele in hierdie styl vervaardig, en selfs sonder die gesondheidsvoordele, is hierdie steeds die nuutste en beste in kantore wêreldwyd.

Moet jouself nie terughou nie, maklik was nog nooit mooi nie, maar dit sal altyd ’n baanbreker wees. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!