My hart g’n moordkuil
Sê maar net 30 jaar gelede
Gene Travers
Een van my Nuwejaarsvoornemens vir 1993 was om vanjaar kalm en rustig te bly. Ek het my voorgeneem om my vir niks te vererg nie en oor niks opvlieënd te raak nie.
Selfs al sou ek wye draaie om dobbelaars op Windhoekse sypaadjies moes loop terwyl verkeersbeamptes en polisiemanne magteloos toekyk, sou ek kalm bly.
Huurmotors wat voor my inswaai, my van die pad druk of voor my dubbel-parkeer, en motorryers wat op my vloek en lelike tekens wys, sou my glad nie ontstel nie.
In supermarkte en banke kon mense maar voor my in die tou indruk en ek sou gelate wag totdat al die indrukkers hul sake klaar gedoen het en my beurt van agter in die tou aangebreek het.
Sou diewe weer by my huis inbreek en my besittings steel, sou ek nie kwaad word nie en geduldig weer spaar om vir my ander goed te koop.
Gate, dromme en waterstrome in Windhoek se strate sou my nie van stryk bring nie, en ek sou vriendelik wuif vir staatsamptenare wat van staatsvoertuie misbruik maak.
Die staatspresident kon maar met sy luukse straler die wêreld vol rondrits terwyl mens en dier in Namibië sterf van die honger – dit sou my glad nie van stryk bring nie.
Ek sou die hele jaar rustig en kalm my gang gaan ten spyte van die feit dat ek van die chaos weet wat om my aangaan. Niks sou my opgewonde of kwaad maak nie.
Dié goeie voorneme vir die jaar het tot aan die einde van die eerste week in Januarie gehou.
In die goeie gees van die nuwe jaar het ek my kollegas Gert en Chris vir ’n ligte ontbyt by ’n sekere restaurant in ’n arkade in die middestad genooi.
Nadat ons lank vir diens gewag het en selfs nadat Gert sy bord kos moes terugstuur omdat die eiers droër as gemsbokmis in die Namib gebak was, het ek rustig en kalm gebly.
Ek het my eiers en die stukkie beeshaas, wat vir my na die hak van ’n leerskoensool gelyk het, gemoedelik geëet sonder om kwaad te word. Ek was nog steeds rustig en kalm.
Dit was egter toe ek die rekening by die toonbank moes gaan betaal, dat my goeie voornemens begin wankel het. Ek moes R65 vir die drie patetiese borde kos opdok.
Eers was ek verbaas, toe verstom en toe geskok. ’n Rukkie later het ek kwaad geword en net daarna was ek woedend.
Alles is nou weer normaal. Ek vererg my vir alles wat om my verkeerd gaan en ek wys vir almal vuis wat my kwaad maak. My nuwe Nuwejaarsvoorneme is om my nie twee keer deur dieselfde uitbyters te laat vang nie. Ek sal dié plekke vermy.
– 3 Februarie 1993

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie