Kristien
Kristien

My hart verlang na ons mooie land

Kristien Kruger
My tydjie hier in die VSA raak nou min en my Namibiese hart loop oor van vreugde om terug te kom.

Moet my nie verkeerd verstaan nie, hier is baie wat ek gaan mis –gerieflikheid, verskeidenheid en opwinding. Om nie eens te praat van al die lekker disse nie.

Hier is soveel om te doen en ja, Namibië kan soms bietjie vervelig raak, maar ons het ruimte om asem te haal.

Dié kant woon ons in ’n klein woonstel op die tweede verdieping met bure onder, bo en langs ons. Hier is 390 woonstelle in ons kompleks en wanneer jy op die straat uitloop, is daar nóg tonne mense.

Ons bly vanjaar gelukkig in ’n kleiner stad. Verlede jaar het ons in Houston gewoon en dit is die grootste stad in Texas en die vierde grootste stad in Amerika met ongeveer 2,3 miljoen inwoners. Hier in Dallas is ons darem net 1,4 miljoen.

Jy besef dit nie die eerste paar maande nie, maar mens sukkel later om asem te haal. Ek voel ingeperk en geïrriteerd met al die liggame, die stemme en die beweging. Dit kan ook net wees omdat ek ’n uiterste introvert is wat van my eie ruimte en mense hou. Dit put my uit.

My hart verlang na die vars oggendlug op die plaas en die reuk van nat grond wanneer dit reën. Ek verlang selfs na die droë koue en die middagsonnetjie in die winter. Ek mis die vryheid en oop ruimtes.

In Namibië kan mens se siel regtig asemhaal.

Dis lekker om ander dele van die wêreld te sien en te verken, maar ek het besef dit hou selfs groter waarde in. Wannner mens na jou land terugkeer, het jy nuwe waardering vir die dinge wat jy altyd as vanselfsprekend aanvaar het of dinge wat jy nooit regtig aandag aan gegee het nie.

Namibië se reuke en natuur is so uniek en dit bly deel van ’n mens wanneer jy weggaan en hoe langer jy weg is, hoe meer smag jy daarna.

Wanneer ek hier was en ek gaan terug Namibië toe, maak ek ’n punt daarvan om elke oomblik ten volle te benut en te waardeer. Ek sit ’n bietjie langer buite, ek waardeer die sonsondergang en ek maak tyd om buite te wees. Amper soos ’n duiker wat een groot asemteug vat voor hy in die water spring.

Ons land het sy kwessies, niemand kan dit ontken nie, maar tog is dit deel van ons.

Ek gesels elke week met Namibiërs wat in die buiteland woon en baie van hulle het permanent geïmmigreer, maar hulle sê self dat Namibië altyd deel van hulle sal bly.

So gepraat van Namibië sonder grense, die program wat ek elke week bymekaarsit en wat weekliks op Namibia Media Holdings se platforms uitgesaai word.

Ek het een ding van die program geleer en dit is dat Namibiërs mense is wat uit hul pad sal gaan om ander mense te help.

Vir die program moet mense gewoonlik tyd vanuit hul dag gebruik om vir my video’s en foto’s te stuur en tegnies (behalwe vir ’n bietjie publisiteit en ’n lekker tyd) kry hulle nie regtig baie daaruit nie, maar hul doen dit met die grootste vreugde en dit is altyd vir my lekker om saam met hulle te werk. Ander mense en veral Amerikaners, sal nie iets vir jou doen sonder om munt uit die situasie te slaan.

Namibiërs is net so goedhartig en dit is ’n voorreg om soveel Namibiërs oraloor die wêreld te leer ken en elke week hul stories met ons kykers te deel. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!