My innige meegevoel
Ek besef niemand is ooit alleen nie; dit kom net soms so voor.
Ek het empatie met die mense wat in ghettos hier op die hawedorp bly.
Wanneer dit reën, word hulle nat. Waai die wind, is hulle vol stof. Of andersins braai die son hulle gaar. En wanneer dit brand, vergaan alles tot as.
Nou ja, kokkerotte, muskiete, motte, vlieë en die suurstof wat ons inasem, is glo van die dinge wat ons almal in gemeen het.
Mens is mos maar mens, “no matter what”.
In Narraville hoor ek tap mense wie se stopkrane toegedraai is, nou glo water by die begraafplaas onder die dekmantel van die nag om hulle dors te les. Die lewensbelangrike vloeistof vloei volgens gerugte gratis daar.
Volgens die storie wat loop, word die dooies se rusplek ’n miernes van bedrywighede wanneer die son sak. Die volk kom met kanne op kruiwaens, winkeltrollies en selfs stootwaentjies, om te kom vol maak vir die dag van môre.
Ek sou die gedoente bitter graag self wou sien. Net ’n jammerte ek is bang vir spoke en dinge wat roer in die nag.
So van spoke gepraat, klim daar nou ’n geraamte uit die kas. Eens op ’n tyd was Walvisbaai ’n coronavirus-brandpunt. Die eerste persoon wat daaraan beswyk het en begrawe is op die hawedorp, se oorskot lê nou nog eensaam en toegekamp daar op ’n oop kol in die dorre woestyn. Die voetspore en ’n gryspad wat aangebring is na die graf teen ’n beraamde N$80 000, is reeds toegewaai.
Ek voel vir die oorledene se oorlewendes.
Ja, corona het vir almal ’n rat voor die oë kom draai. Ek het simpatie met my kollegas. Sport het in sy geheel tot stilstand geruk. Vir amper twee jaar het daar niks op die sportvelde gebeur nie en ons (verslaggewers) het naweke vir ons self gehad. Nou gebeur dinge weer en ons is onkant betrap en skielik voel dit alles raak net te veel. Die liggaam wil, maar die hart en siel se nee!
Ek het ook simpatie vir die sekuriteitswagte wat leë raadseiendomme moet oppas in die omgewing waar ek woon. Ek sien hulle stap gereeld duine toe om die “toilet” te gebruik. Ek hoop daar gaan een van die dae ’n paar palmbome hul opwagting daar maak. Die wagte steek sommer gereeld ’n vuurtjie aan. Nie om te braai nie, maar eerder om die koue te probeer verdryf.
Ek voel egter nie dieselfde oor die finansiële beamptes by die Walvisbaai-munisipaliteit wat daai einste sekuriteitsmaatskappy meer as N$1,2 miljoen oorbetaal het (glo ’n administratiewe fout) vir dienste wat nie gelewer is nie. Ek wonder hoe ver is die saak, want daar is mos ’n ondersoek van stapel gestuur en beloftes gemaak dat die skuldiges dissiplinêre klagte in die gesig sou staar.
Dan dink ek weer aan daai sekuriteitswagte en wonder hoeveel verdien hulle wanneer die maatskappy waarvoor hulle werk, met soveel geld weggestap het.
Nou ja. Hulle sê mos wat die hart van vol is, loop die mond van oor.
Genoeg van my wensdenkery.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie