Des Erasmus
Des Erasmus

’n Ander soort lekker

Sê maar net 30 jaar gelede
Mandy Rittmann
Des Erasmus – In die week waarin Jan van Riebeeck in Tafelbaai hakskeen in die sand kom slaan het, waai die winde weer soos daai keer toe dit sy Maria se boskaas deurmekaar geblaas het. Van Simon van der Stel se akkerbome lê glo wortels in die lug.

Kry ’n boodskap doer uit die suide dat daar kragonderbrekings was. Die mense was seker bly, want toe hoef hulle nie TV te kyk nie. En dit was koud en dit was nat en dit was donker.

In Natal het hele wolke glo oor gebiede omgedop. Dit was die naweek water net waar jy kyk. Die damme wat nie tot barstens toe was nie, was dié wat klaar gebreek het.

En hier? Weer was Namibië Sondag soos tussen die Groot Droogte en die Depressie. Die een ellende druk van agter en die ander een keer van voor.

Want hier in Windhoek waai daar Sondag ’n wind wat nie mooi weet waarheen hy wil waai nie. Toe draai hy sommer so al in die rondte.

En dit raak koud en dit reën nie. Stof kners oral en ek weet ek was verkeerd toe ek geglo het dat die mika in die groen gras gaan slaap het.

Ek dink aan Worcester se storietjie. Hulle sê dis die plek waar die wind die tweede meeste waai. Die meeste? Die plek het glo weggewaai.

Met die wind wat waai, gaan soek ek toe vertroosting in my skryfkamer. Ek glo mos ’n man moet daar lig en lug hê. Dis dié dat die vensters alewig wawyd oophang.

Daar het die wind toe kom inbeur en alles omgekrap.

Dit het ’n strooihoed afgeruk wat Dok Spies by Charney gekoop en my gegee het toe hy sien die hare raak al hoe minder, maar hy dit darem nie reguit wou sê nie. Nou het dit so ’n kleinood van strooi geword dat ek dit nog net Krismis en Nuwejaar dra. En op hierdie Sondag lê ’n klein weeskatjie met my rollende kosbaarheid en speel.

Te oulik vir sy ma (maar nie vir sy pa nie!)

Ook afgeruk is ’n almanak met groot syfers in rooi en blou. Op my jare raak die prentjies bysaak. Die eerste vereiste is dat die syfers groot en vet moet wees sodat ek dit kan lees.

Ek skreeu die gang af dat 3 Mei ’n vakansiedag is.

’n Dogterskind skreeu terug dit is 4 Mei. “Die bloues is die werksdae en die rooies die vakansiedae.”

“Nou hoekom lyk die rooies hier meer as die bloues?”

Stilte.

Ook van sy mikkie geruk is ’n lammersweep. Die voorslag is sag en die vlegwerk foutloos. Doer op die walle van die Visrivier het ’n gryse man in die skemerte van sy lewe gevleg terwyl hy gewas het dat die aand moet kom.

En Joop vandag? Vleg hy nog daar? Of is hy reeds by die Waters waar Rus is en die lammers vry kan wei?

’n Kaartjie het uit die boekrak grond toe gefladder. In onsekere hand staan daar geskryf: Vadersdag 1983.

Die oortjie wat met die jare ontwikkel het, bied ’n maklike vatslag. Ek maak oop en lees ... en weet hoekom ek dit nooit weggegooi het nie.

Nou pluk ek die laaie oop en soek na nog bloeisels in die stof.

Toe roep ’n vrouestem: “Jy’t gesê jy gaan werk in die studeerkamer. Maar dis dan doodstil. Nou’s dit etenstyd. . .”

“Ek werk, ja. Werk sommer oortyd, ja.”

“En het jy gesien die wind het gaan lê?”

“Ja ek weet, want die storm in my het bedaar.”

En ek besef ons praat glad nie van dieselfde goed nie.

– 13 Mei 1993

* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2024-11-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 31° Rundu: 20° | 34° Eenhana: 21° | 34° Oshakati: 23° | 33° Ruacana: 20° | 30° Tsumeb: 21° | 33° Otjiwarongo: 20° | 31° Omaruru: 25° | 34° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 23° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 22° | 38° Aranos: 23° | 36° Lüderitz: 16° | 28° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 20° | 34° Lubumbashi: 18° | 33° Mbabane: 16° | 31° Maseru: 14° | 30° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 19° | 32° Maputo: 19° | 33° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 27° Johannesburg: 16° | 29° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 19° | 29° Harare: 16° | 26° #REF! #REF!