‘n Boksie vol reën vir Krismis
Sou ‘n mens reën kon toedraai? En as jy kon, hoe sou dié geskenkpakkie daar uitsien?
Só sit en dagdroom ek in die versengende hitte midde die tik van my amper laaste koerantstories vir die jaar – my woorde op en my kop so droog soos my dorre tuin voor die venster.
Soos die klipharde grond buite, smag my 2022-gefolterde liggaam en siel na lafenis.
Geen groter present kan daar wees as hemelse water dié feestyd nie. Wolke swaar swanger met koel saligheid. Krismisreën.
In my geestesoog beraam ek planne om dié geskenk toe te draai.
Eers lok ek die druppels met die belofte dat hulle binnekort eindeloos buite kan gaan baai – vry, soos net Kersfees kan bevry. Druppel vir druppel pak ek hulle in ‘n boksie. Voel hoe elkeen van hulle die skurfgeit van my hande laaf.
Die kosbare vonds veilig in die boksie, strek ek na die uitspattige rooi geskenkpapier met krismisboompies op. Laasgenoemde heldergroen, vol hoop van nuwe lewenskrag wat gaan ontplof sodra die pakkie oopgemaak word. Ter afronding: Die blinkste van strikke om die boksie vol druppels onder die uitheemse krismisboom in toom te hou totdat die son Kersoggend skalks agter swaar Afrikawolke knipoog.
Dalk moet ek eerder die geskenk Matryoshka-styl verpak – om die verrassing uit te rek. Jy weet, soos Russiese poppies? ‘n Present binne ‘n present binne ‘n present.
Die eerste laag ‘n swaar, diepgrysblou wolk wat, ondanks die watermassa, steeds veerlig voorkom. Amper té broos vir my als-behalwe-skoon mensehande om daaraan te durf raak.
Die tweede laag is donderweer wat grommend gerusstel. Wat my kinderlik nietig laat voel. My opnuut die groot krag van die Lewe laat besef. My troos in die wete dis okei om nie alles te verstaan nie.
Die wind wat opsteek, skuil in die derde poppie. Dit skarrel oor die droë erf en torring Eugène Marais in my geheue los: “O, die dans van ons Suster!” Sy wat die winde van die dans vertel en hulle uitnooi, “want die werf is wyd en die bruilof groot”.
Die volgende laag in die geskenk kielie my neus. Dis die reuk van die eerste druppels as dit in die stof plof. Dit ruik na dankbaarheid. ‘n Droë aarde wat dankie-dankie die nattigheid begin proe. Huiwerig begin onthou hoe dit voel om jou dors te les.
Versigtigheid is die wagwoord vir die volgende laag. Want sien, dis ons Suster se blink armbande en skitterende krale. Die bliksemstrale wat aan die teenpole van die lewe herinner: Gevaar en uitbundigheid, smart en geluk, liefde en eensaamheid. ‘n Mens moet leer om met die plus én minus van die lewe saam te leef.
Dalk bevat die geskenk ook ‘n bederflagie: Hael. Liewe Jesus se icekreempies, soos kleinseun Brian dit gedoop het.
En dan: Die groot present, uiteindelik. Ons Suster se vaal karos wat sy met altwee arms genadiglik oor ons uitsprei. Sodat die asem van die wind wegraak.
“Ons Suster! Ons Suster! Jy het gekom! Jy het gekom!”
Mag elkeen van ons dié Kersfees ‘n letterlike en figuurlike boksie vol reën onder ons Kersboom hê.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie