’n Dankbare totsiens
Die keer is dit regtig totsiens. As ek my kop op ’n ding sit, is dit nou maar so.
Ek het grootgeword met my ouers wat langarm op BZN se “Yeppa, yeppa’’ dans. Sonbesies wat skree, skree, skree in die versengende hitte van die Noorde, daar waar ek gebore is. Waar die omaramba vloei as God sy genade oor die aarde uitstort.
Ja, bevoorreg om ’n kind van die Dorsland te wees.
Woensdae se veilings en ’n blikkie Coke as Pa my uit die koshuis kom haal. As jy gelukkig is, geen huiswerk doen nie en ’n buisie Dirkie-kondensmelk voor hy weer plaas toe ry.
Taai, want Grootfontein het die lekkerste drinkwater in die land. So lekker dat jy vir altyd op al jou lewenspaaie aanhou na dáárdie smaak soek. Én na die kruisbessies wat jy van die bos se takke af eet en die die makalani’s in die ongenadige son.
Naweke plaas toe en goue oues oor die radio, met ’n storieboek by ’n parafienlamp. Dis al.
Ek wou stories skryf voor ek kon spel. In graad 1 het ek dierbare juffrou Sariekie se a’s, b’s en c’s wat sy ons geleer het soos ’n spons opgeslurp. Want dit sou my help om eindelik my eie stories te kon skryf. Sus en Daan, geleer soos ’n rympie wat ek vandag nog onthou.
Net soos Leserskring in sy storieboeke die mooiste stories vertel, sou ek dit ook eendag doen. En ek het. ’n Godgegewe talent, ’n passie wat my vreugde en soms my ondergang is. Soli Deo Gloria, ek kan nie anders nie.
Ek het geweet ek moet skryf, voor ek nog enige iets anders geweet het. God maak jou met geboorte reeds wie jy moet wees. Dit weet ek verseker. Soos ek weet Hy het ook my pad reeds vorentoe uitgelê.
Miskien is dit tyd dat ek nou ook al die ander dinge word wat ek ook is: ’n ma, ’n vrou, ’n familie-mens, ’n boerin, iemand wat graag my eie kop volg, ’n kunstenaar en ’n passievolle méns.
Alles waarvoor ek nooit tyd gehad het nie. Sien, joernalistiek is ’n jaloerse beroep. Hy dink hy besit jou. Dit laat ’n ieder en ’n elk ook met littekens én ’n gróót rykdom ervaringe.
Ja, jy lééf en jy sien so baie. Maar mense soos ons se beroep raak soms jou identiteit – dit is jou ondergang soveel as jou redding. Dit kós jou, maar leer jou ook meer oor wie jy werklik is.
Ek groet met ’n hart wat oorloop. Dankie Republikein, jy’t my grootgemaak onder die uitstekende mentorskap van groot name soos Ronelle Rademeyer, Henriette Lamprecht en nog soveel meer. Kaliber. Twaalf jaar is ’n klein leeftyd.
Ek het meer geleer as wat 1 000 boeke jou kan wysmaak – my verwonder aan die sterkes, my hart gebreek oor die stukkendes en geleer by die moediges. Geskok deur die wreedheid, misdaad en korrupsie en meegevoer deur die goedheid en opregtheid van mense. Elke dag leer ek weer oor al die kante van menswees. Ek raak maklik lief vir my medemens en my hart het ruimer geraak. Uiteindelik kan ek net dankie sê.
Daar kom nooit ’n dag dat jy alles gesien het nie.
Moet my nie vergeet nie, maar dit maak ook nie saak as jy doen nie. Natuurlik sal ek altyd ’n mediamens bly, ek sê dan ek is so gebore.
Sien jou weer, en dankie, liewe Republikein-lesers. Wat ons het, is net genade. Soli Deo Gratia.
– [email protected]
* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie