Gert Jacobie
Gert Jacobie

’n Gevaarlike operasie

Sê maar net 30 jaar gelede
Mandy Rittmann
Gert Jacobie – Om ’n studeerkamer reg te pak, is soos om deur jou eie verlede te wandel tot waar jy nou is.

En dit is dêm gevaarlik!

Gister lê gewoonlik in alles – van ’n ou tjekboek tot foto’s wat saam met jou uit jou weermagdae kom. Sodra jy die werk afgehandel het, vra jou vrou jou wat verkeerd is en sy beskuldig jou daarvan dat jy skielik “snaaks” geraak het.

In ’n pakkamer so groot soos die Ford-fabriek in Suid-Afrika kan ’n mens nooit soveel herinneringe opgaar soos in ’n enkele laai in jou eie lessenaar in jou eie studeerkamer nie. En op ’n uitstaande rekening na is alles in alle geval snert.

Dit was die afgelope naweek sulke tyd en saam met die ou rekeninge, foto’s, uitnodigings en vergange dae se persverklarings kon ek uiteindelik daarin slaag om die verloop van my lewe die afgelope klompie jare te volg.

Terwyl mens “regpak”, is dit die natuurlikste ding op aarde om weg te gooi sover as moontlik, wat op sigself ’n “statement” is.

Dit is ’n bewys van ’n karakter wat daarop ingestel is om so lig as moontlik te reis. Net met die mees noodsaaklike dinge by jou. Dan is dit gewoonlik ook die mees onbenullige goedjies wat elke keer weer gebêre word, omdat mens dit net nie oor jou hart kan kry om dit ook maar weg te smyt nie. Miskien by ’n volgende geleentheid.

Laat my nogal dink aan ’n klein seuntjie wat sy broeksakke omdop en dan is daar ’n dooie padda, ’n knipmes sonder ’n lem, twee klippe vir sy kettie en ’n vuurhoutjie daarin.

Wat ’n mens die meeste skok, is die wete dat wanneer jy jou studeerkamer, “uitsorteer”, doen jy dit met ’n vae gedagte dat dit dalk die laaste keer kan wees wat jy dit doen en dat jy dit so moet doen dat indien jy dalk nie meer daar is binne die volgende paar dae nie, die agtergeblewenis darem moet weet waar om te begin soek tussen die dinge wat jy op hierdie aarde agtergelaat het.

Omdat ’n mens maar net ’n mens is, gebeur dit dan ook dat jy ná so uitsorteersessie onwillekeurig die volgende paar dae daaraan bestee om onafgehandelde sake klaar te maak. Jy betaal sommer ’n rekening wat lank uitstaande was of jy laat ’n nuwe testament opstel.

Dan kom speel die noodlot sy rol. In jou geskarrel om alles reg te kry vir die onvoorsiene, beland jy voor ’n bus en by jou begrafnis sê almal jy het ’n gevoel gehad dat die einde naby was, daarom het jy alles reggekry. Ons goedgelowige Afrikanervolkie koppel dit dan sommer onmiddellik aan ons ingeburgerde godsdiensoortuigings en siedaar, nog ses siele word in die proses op die regte pad geruk.

Wat is die kruks van die verhaal?

Moet nooit jou studeerkamer regpak nie – jy soek net moeilikheid.

As jy wil help om siele te red, word ’n sendeling of maak ’n groot bydrae tot die een of ander kerk se geldkas – dan kan jy minstens die bus-petalje misloop!

Die antwoord vir deurmekaar studeerkamers is natuurlik om doodeenvoudig jou vrou in te stuur om die plek reg te pak. Maak ’n ooreenkoms dat jy op jou beurt weer iets vir haar sal doen, soos om ’n ete te kook.

Die enigste ding is dat daar nie goed in jou studeerkamer mag wees wat jy nie wil hê sy moet weet nie.

Jy spaar jouself die nostalgie, die sweet en die moontlikheid van “bad luck” in die volgende paar dae.

– 2 November 1993

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!