’n Gleufie in die masker
Sê maar net 30 jaar gelede
As ’n jong man het ek, weens ’n snaakse sameloop van omstandighede, met ’n hanswors van ’n bekende sirkus in Johannesburg bevriend geraak.
Ek was die hanswors iets verskuldig en het hom genooi om saam met my en ’n vriendin by die ou Hotel Carlton in Eloffstraat te gaan eet.
Hy het met die sirkusbaas gereël om ná die middagvertoning die aand af te kry vir die geleentheid. Selfs hansworse kry ook af en toe ’n dag af.
Van kleintyd was ek versot op hansworse en sou iemand my vandag vra wat ek die meeste geniet het van al die sirkusse wat ek in my lewe bygewoon het, sou ek antwoord dat die hansworse vir my die meeste plesier verskaf het.
My vriend die hanswors was die beste. Hy was een van daardie koddige klein mensies wat met ’n pofbroekie, opkrulskoene, rooi pruik en bolhoedjie in die arena verskyn het en duisende mense van die lag laat skater het.
Ek het die middag vir hom gewag om sy hansworswerk in die arena klaar te maak, waarna hy my na sy woonwa genooi het waar hy sy hansworsklere wou uittrek.
Die koddige mannetjie het voor my uitgewaggel en by die woonwa ingeklim met my agterna. In sy woonwa was daar chaos. Die woonwa het erg geruik en ek kan onthou dat ek tussen die rommel rondgekyk het om te sien of daar nie dalk ’n sirkusvark ook saam met hom in dié plek bly nie.
Onder ’n bondel vuil klere het hy ’n bottel Martel-brandewyn uitgepluk en vir ons elkeen ’n stywe dop in twee vuil glase geskink. Hy het gesê ek moet solank op so ’n rooi sirkuskas sit, terwyl hy verklee. Dit was net daar voor my aangesig wat die hansworsie ’n totale gedaanteverwisseling ondergaan het.
Hy het die groot plastiekneus afgehaal en die glimlag wat van oor tot oor geverf was, afgevee.
Ek was verstom. Die koddige hanswors, wat ’n bestaan daaruit gemaak het om duisende mense regoor die wêreld te laat lag, het voor my oë in ’n baie droewige persoon verander. Ek het dié aand die hanswors vir die eerste keer werklik leer ken. Hy was ’n verbitterde man.
Ons het laat daardie aand in die Hotel Springbok in Lovedaystraat beland, waar ons saam dronkverdriet gekry en op mekaar se skouers gehuil het. Hy moes natuurlik op die kroegtoonbank sit om my skouer by te kom. Ek het hom in die vroeë oggendure by sy vuil woonwa afgelaai en met ’n groot stuk van sy verdriet huis toe gery.
Sedertdien het ek al duisende sulke hansworse ontmoet. Hulle loop in die dorp met breë glimlaggies rond en probeer vir die wêreld wys dat hulle gelukkig en suksesvol is. Maar ek weet dat hulle saans eensaam en alleen hul hartseer op hul kussings uitsnik.
Ek het my hansworsie nooit weer gesien nie en later verneem dat hy selfmoord gepleeg het. Omdat ek hom beter geken het as die skare wat sy manewales in die arena geniet het, het ek geweet dat hy met verbittering na sy graf is.
Nou wens ek dat hy net vir ’n uur weer kon lewe. Ek sou bereid wees om hom by sy graf te gaan haal en hom hier in Namibië te kom wys watse hansworse deesdae hul koppe op die politieke verhoog uitsteek.
Ek is seker daarvan dat sou ek hom weer by sy graf aflaai en vir die tweede keer van hom wegry, hy daar diep onder die kluite ’n glimlag op sy gesig sou kry.
Hy was ’n hanswors van formaat.
– 2 Desember 1992

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie