Augetto
Augetto

'n Goeie tyd vir geluk

Augetto Graig
Die groot dae is om die draai en die jaar nader sy einde. Tyd stap aan, die minute raak vol, die ure versadig en die dae begin om weg te vloei. Tyd is ’n vreemde ding. Dit kan verdwyn soos 'n speld wat op 'n dik tapyt laat val is. Tyd kan sloer soos ’n ongenooide gas wie net nie sy ry wil kry nie. Tyd kan vlieg. Tyd kan kruip. Tyd gaan verby. Die verloop van tyd skrik vir niks en stop vir niks.

Tog is daar oomblikke wat in die geheue skynbaar vir eeue kan bly. Een sekonde kan ’n leeftyd met ’n mens bly. So sien ons die invloed wat ons elkeen op ons tyd kan hê. Ons kan ons tyd benut. Ons kan ons tyd geniet. Ons kan ons tyd mors.

Jare terug, by die Universiteit van Namibië, is ek ’n paar toertjies geleer om die beste te maak van ’n droewige tyd. Spesifiek moes ek leer hoe om 'haastig' te wag. Om gou-gou haastig te wag, doen jy jou werk wat nog gedoen moet word terwyl jy moet rondsit. So vlieg die tyd en wanneer jy weer opkyk, is dit jou beurt. Om haastig te wag, moet jy vroeg opdaag, sodat jy voor in die ry kan wees. So maak mens vinnig en vroeg klaar.

Hierdie twee toertjies is glad nie die volledige stel toerusting waarmee mens die verloop van tyd so bietjie kan buig nie. Daar is baie ander. Die meerderheid begin in jou kop. Dit gaan oor hoe jy die verloop van tyd sien.

Dit is moontlik om, wanneer jy voel jy het baie tyd op jou hande, die kans te neem en dit baie te geniet. Dit is ook moontlik om wanneer die druk hoog is en elke minuut tel, opgewonde daaroor te voel. Selfs die angs voor ʼn belangrike geleentheid raak vir sekere mense soos akteurs en musiekkunstenaars baie genotvol. Dit kan selfs verslawend wees as mens gewoond raak aan die afwagting voor ’n groot uitdaging. Een ding oor tyd is universeel. Tyd raak op. Daar kom altyd 'n tyd vir die einde. Jou tyd is beperk. Tipies misterieus word ons nie toegelaat om te weet wanneer die tyd op sal wees nie. Dalk met dié inligting sou ons

benadering tot tyd heeltemal anders wees.

Die werklikheid dwing egter dat ons die onsekerheid as deel van die lewe moet aanvaar. Ons weet nie.

Wanneer jou tyd aanbreek, is dit altyd nou. Die verlede is verby en binnekort ook vergete. Die toekoms is onseker, vol belofte maar maklik ’n verraaier. Selfs as jy lewe om môre te sien, mag dit donker wolke en smart wees in die plek van sonskyn en rose wat jou in die oggend begroet. Nou is egter iets anders. Hierdie oomblik is joune. Jy is hier, en jy lees hierdie woorde. In hierdie oomblik léwe jy. Wat ’n gawe! Wat ’n wonderwerk! Wat ’n geleentheid!

Met hierdie oomblik kan jy maak net wat jy wil. Kies daarom mooi. Doen goed. Wees lief vir iemand. Wees bly en jubel en laat jou glimlag op jou gesig geplak bly. Daar is altyd iets om oor gelukkig te wees. Om gelukkig te wees is ’n baie goeie gebruik van jou tyd. Ek wens almal ’n gelukkige tyd toe, met rus, liefde, familie en vriende, lekker tye en baie hardop gelag. Dit is die tyd van seëninge.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!