'n Hart vol Spiderman
Die volle gloed van varkensuur tref ons toe die knapie sonsondergang tuis aankom, al hinkepinke deur die braaikamer.
‘n By het hom gesteek, mor hy.
Ons glimlag vir dié nuwe triek waarmee hy hoop hy sy aandroetine van bad, eet en bed gaan vertraag. Uitgeslape, dié mannetjie, elke aand dieselfde holruggeryde taktiek. Kleuters se “superpower” om die laaste greintjie energie van doodmoeë ma’s en pa’s, oumas en oupas te beproef.
Ons fynkam nietemin die vuilgespeelde voetjie op soek na die bron van die brommerigheid. Spits ons oë tussen blertse modder, verf en ander bewyse van nóg ‘n besige dag by die kleuterskool om seker te maak dis wel net ‘n storie wat hy spin.
G’n niks nie, is die grootmense se oorwoë mening. Bad toe met jou, boet!
Die volgende oggend is die grootmense se oë skaam vasgenael op ‘n poffervoetjie. En die amper vyf jaar oue blou oë staar uitdagend terug: “Ek het julle mos gesê.”
Uitoorlê word dokter toe gepiekel. By se kind het gewis nie hier getorring nie, beslis die geneesheer. Maar dis nie die eerste kleuter wat in haar spreekkamer beland nie en sy ruik lont.
Sy begin met die laaitie onderhandel om die regte storie uit hom te trek. Ná ‘n slim gepor en stukkies-stukkies inligting, kom hulle ooreen: Geen inspuiting vir die waarheid.
Onder die wakende oog van sy beskermengel het die mannetjie besluit sy ma het ‘n “superhero” nodig. En homself stil-stil by die skool gekamoefleer (soos net kleuters kan) op soek na ‘n spinnekop. ‘n Byt van ‘n agtpoot sal hom ‘n Spiderman verander, was die plan.
Liewe Jesus moes trots geglimlag het vir dié jong man se lomp dapperheid. En ‘n relatief skadelose spinnekop sy pad laat kruis het. Een met genoeg byt om gelukkig net ‘n geswelde voetjie te veroorsaak. En ongelukkig ‘n kleuterdroom aan skerwe te laat spat.
Moenie hartseer wees nie, my liefste kleinseun. Die pad na Spiderman skuil in jou hart, nie iewers op ‘n speelgrond nie.
Gaan op ‘n skattejag deur die tuin van jou hart. Iewers, diep weggesteek, sal jy hom vind, in ‘n web met silwer drade wat blink soos die oggenddou as die son dit wakker soen.
Fluweelsag soos die klein, rooi spinnekoppies in reëntyd is hy. Met strepe die kleur van die reënboog op sy lang, nuuskierige bene. Wat die soetse wiegeliedjies op sy websnare speel.
Gróót mag het hy, my kind. As die lewe se boelies jou wil bangmaak, is hy ‘n bobbejaanspinnekop wat die skrik wegjaag. Sy knopiespinnekopgif sal jou vyande hul kloue laat terugtrek.
Vadertjie Langbeen sal sy wêreldwysheid met jou deel. En as die lewe se hartseer om jou toevou, sal die wolfspinnekop jou leer om jou gesig na die volmaan te draai en te huil.
Daar sal dae wees wat jy op die musiek van die vioolspinnekop dans. Tye wat die jagspinnekop jou sal moet touwys maak om te kry wat toekom.
Jý, my liewe kleinkind, ís klaar Spiderman. Jou lag, jou hart, jou leergierige kop is jou “superpowers”.
Jy is reeds ons “superhero”. Jy gee ons durf vir die lewe. Krag om aan te hou in die hoop dat ons ‘n môre vir jou kan uitkap waarin jy kan baai. Sodat jy ook eendag ‘n wêreld kan bou waarop Spiderman kan trots wees.
Gaan soek ‘n spinnerak in die tuin. Gaan knoop ‘n geselsie aan met die eienaar daarvan. Beraam planne oor hoe julle die lewe mooier gaan maak: jy in jou kosmos en hy in syne.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie