‘n Hartseer gesig
Ons gesin het oudergewoonte dié afgelope vakansietyd die spreekwoordelike ossewa gelaai en die Groot Trek Torrabaai toe aangedurf. Wens jy ook soms jy kan die opgewondenheid wat jy as kind oor sekere dinge ervaar het, weer terugkry? Ek onthou nog die vlinders in my maag as ons voor vieruur in die oggend sou opstaan, seker maak alles is gelaai, seker maak die katte en honde is uit die huis, en dan in die pad val. Ek sê nou ons moes vroeg opstaan, maar eintlik, uit pure opgewondenheid, het ek in elk geval nie veel geslaap nie, want “ons gaan see toe!” Langs die pad sou ons eers by Dopsteekhoogte stilhou vir ‘n koppie koffie en padkos. Verder het ek en my broer (meestal ek) heelpad heerlik in die kar geslaap tot by die Springbokwater-hek. Vroegoggend het ons baie van ons mede-Torrabaaiers wat vroeg by die hek wou inkom en dus by Springbokwater oornag het, daar gekry. Daarna, vir die laaste 50 kilometer, het ons nie meer geslaap nie, want die see was net té naby! Daar gekom sou ek dalk weer maak of ek slaap om nié te help kamp opslaan nie, maar dié brokkie inligting is nie nou belangrik nie.
Vandat ek kan onthou tot etlike jare voordat ek hoërskool toe is, was daar nog “long drops” op Torrabaai. Ek hoop nie dit klink snobisties as ek dit sê nie, maar dit was beslis nie ‘n ontspannende ervaring om daardie toilette te gebruik nie. Volgens my ouers het ek een keer byna onderin die “put” beland. Ek wil my nie eens voorstel wat sou gebeur het as ek wel ingeval het nie! In ieder geval was ek redelik versigtig as ek die Torra-“troon” moes besoek, en ek was beslis nie die enigste een nie! Stel jou nou voor hoe opgewonde was ons Torrabaaiers toe hulle uiteindelik besluit het om so tien jaar gelede spoeltoilette daar aan te bou. Daarbenewens het hulle ook nuwe stortgeriewe, ‘n nuwe winkeltjie en sommer ‘n nuwe kroeg aangebou en al dié nuwighede het sommer vreeslik luuks gevoel! Jy kon jou eie stort- en aantrekspasie geniet en daar was nie meer muf wat moontlik nog uit my ouers se tienerjare kom wat onder die stortplankie aangepak het nie. En die ooms kon, sonder hulle vrouens, na ‘n lang dag se visvangery by die kroeg gaan sit en ‘n biertjie of vyf saam drink. Natuurlik het al dié bouwerk vir NWR, wat in beheer is van die kamp, etlike miljoene (sowat sewe miljoen, volgens ‘n ingeligte bron) uit die sak gejaag, maar dit was beslis destyds die moeite werd.
Torrabaai het ‘n spesiale plek in my familie en veral my gesin se harte. Ek het baie kosbare herinneringe aan dié enigste vakansiebestemming wat ek ooit as kind geken het. Nou moet ek egter ongelukkig by die “maar”-deel van my storie uitkom. Ek sal egter die negatiewe deel kort en kragtig probeer hou!
NWR is veral die afgelope tyd gereeld in die nuus oor swak dienslewering en die vervalle toestand van sy oorde. Dit pynig my om dit te sê, maar ons liewe Torra is geen uitsondering nie. Die infrastruktuur wat die kamp etlike jare gelede nog heel luuks laat lyk het, is besig om uitmekaar te val, en sover ek kan sien, doen niemand regtig iets omtrent die situasie nie. Die nuwe toilette wat hulle destyds by die Springbokwaterhek aangebou het, is onbruikbaar, só vuil is dit. Ek sal veel eerder agter die kar gaan hurk as om op daardie smerige toiletsitplek te gaan sit. Die kamptoilette word nog gereeld skoongemaak, maar ruite wat uitval, word met karton toegeplak en muurteëls wat loskom, word doodeenvoudig uitgekap. Daar hang ook ‘n reuk daarbinne wat ek as “ou plaasdam” sal beskryf.
Die storte staan nog, maar behalwe vir die buitensporige kampfooie wat mens deesdae moet betaal, moes ons aan die begin van die vakansie kwansuis nog ekstra stortgeld ook betaal. Die winkeltjie was nog altyd effens belaglik duur, maar nou is dit nie eens meer ‘n grap nie. ‘n Gewone pakkie Simba-tjips kos N$15. Maak maar seker jy vat jou eie whiskeyvoorraad saam, want ‘n bottel Jameson sal jou deesdae N$780 by die kampwinkeltjie uit die sak jaag. Deesdae sit die NWR-personeel wat oor die vakansie daar moet werk, gereeld by die kroeg met 'n glas bier in die hand. Dit is volgens my onprofessioneel en skrik die vakansiegangers af.
Vroeër jare het mens ‘n eenmalige parkfooi aan die omgewingsministerie betaal. Nou moet jy N$50 per voertuig en N$50 per person per dag betaal vir élke dag wat jy in die park is. Torrabaai is aanvanklik gevestig om vir die Kamanjab en Khorixas-mense en boere ‘n bekostigbare vakansieplek te skep, maar dié gewone belastingbetalende landsburgers kan nie meer dié belaglike parkfooie bekostig nie. My oupa- en oumagrootjie Du Plessis was in 1957 een van die eerste vyf gesinne wat met toestemming daar gaan kamp het. Dit is vir my hartseer om te sien hoe die mense wat die plek oorspronklik opgebou het tot wat dit ‘n paar jaar gelede was, die oorspronklike Torrabaaiers, jaar na jaar al minder word. En die verval van ‘n plek waar ek so baie kosbare herinneringe het, is ‘n hartseer gesig.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie