Yandi se maar net (002)
Yandi se maar net (002)

’n Hedendaagse sirkus

Ek is een van die min Generasie Z-individue wat nié op TikTok is nie. Ek sal toegee, ek is dalk meer “tegnologies gestremd” as my ouma en vermy sosiale media sover moontlik. Ek het egter ’n spesiale soort weersin in dié spesifieke platform en ek voel hoewel daar af en toe iets werklik interessant of vermaaklik deur die krake glip, is die toep besig om die meerderheid van sy verbruikers se breinselle bietjie vir bietjie dood te maak.

Dis soos ’n hedendaagse sirkus, maar pleks van hansworse, akrobate en leeutemmers, het ons mense wat die toiletsitplekke op vliegtuie lek (regtig!), plastiek-vampiertande aan hulle eie tande vasgom met superglue, of histeries huil oor Elon Musk se Twitter-transaksie baie traumaties vir sommige blyk te wees. En in plaas van ’n rooi-en-wit tent het ons die internet, en elke Jan Rap en sy maat met ’n slimfoon kan ’n toeskouer van dié fratsskou wees.

TikTok is in 2016 geskep as ‘n platform vir kort, humoristiese video’s en is destyds geassosieer met mense wat op ander se musiek “lip sync” en lawwe danse doen. Dit is nog steeds die geval, maar die platform het onlangs ook sinoniem geword met virale internetuitdagings. Viraal, soos dit versprei soos ’n virus – asof die wêreld nóg daarvan nodig het.

Maak jy die “app” oop, sal jy onvermydelik opportunistiese moegoes sien wat hul reputasies en selfs liggame op kamera waag vir sosialemediaroem en aandag.

’n New York Post-artikel wat ek onlangs gelees het som dit (volgens my) perfek op: “Humanity has hit Tok bottom.”

Dié artikel praat van die sogenaamde “TikTok challenges” en die penaries en beproewings wat dit meegebring het.

‘n Vroulike “TikTokker” het byvoorbeeld verlede jaar in die hospitaal beland nadat sy haar hare met Gorilla Glue, ’n baie sterk Amerikaanse gom, probeer stileer het. Dié “glips” het ’n chirurgiese prosedure van vier ure geverg om haar hare te probeer red.

Hierdie staaltjie is egter nie ’n doeltreffende waarskuwingsverhaal nie, aangesien die gom-fiasko haar US$20 000 dollar se skenkings, honderde gratis haarprodukte en selfs ‘n voltydse agent besorg het - om nie eens te praat van die feit dat sommige breinlose siele haar daarna probeer naboots het nie. Hoekom beloon ons deesdae domheid?

Ongelukkig maak die toepassing se algoritme dit uiters moeilik vir hierdie dikwels skadelike neigings om in die kiem gesmoor te word voordat hulle oor die internet metastaseer.

Die artikel lys ook ander gevaarlike en belaglike TikTok-uitdagings wat my laat wonder of oudpresident Donald Trump nie ’n punt beetgehad het toe hy die toep in Amerika wou verbied nie.

Soos hierbo genoem, het ’n spul dommies verlede Halloween die internet laat gons nadat hulle kostuumvampier-slagtande aan hul eie tande vasgeplak het. Die video’s – wat, met die hutsmerk #VampireFangs, meer as 9 miljoen keer gekyk is – het gewys hoe mense sukkel om die plastiektande te verwyder nadat hulle dit aan hul snytande met Super Glue en naelgom vasgeplak het.

Sommige sotte het besluit om dié uitdaging ’n stap verder te neem en hul skewe glimlagte reg te maak deur ’n naelvyl te gebruik om hul “chompers” gelyk te vyl. Dit was basies die DIY-ekwivalent van ‘n prosedure wat emaljeverwydering deur ‘n kosmetiese tandarts behels.

Een verveelde TikTokker het gedink dit sal ’n goeie idee wees om homself af te neem terwyl hy in sy broek piepie, wat talle ander verlore siele op die platform geïnspireer het om sy voorbeeld te volg.

Die #peeyourpantschallenge-hutsmerk het vinnig 3,9 miljoen kyke op TikTok gekry, sowel as kritiek van verskrikte kommentators. “Mense moet ernstig gou terug werk toe gaan, almal is besig om mal te word,” was een se kommentaar. Ek self kan nie dink dat ek al ooit so verveeld was dat ek ‘n video van myself wou neem terwyl ek só antwoord as die natuur roep nie.

’n Vrou het in Maart verlede jaar die wenkbroue laat lig toe sy video’s opgelaai het van haar wat die toiletsitplekke op vliegtuie lek. Sy het dié walglike vorm van aandagsoekery die “coronavirus challenge” gedoop, maar het gou onder kubersoldate se woede deurgeloop vir haar manewales wat as toondoof beskou is, moontlik oor die ongepaste naam van die uitdaging.

Wat mense moet onthou, is dat dit baie moeilik is om iets van die internet af te kry as dit eers in die kuberruim is. Ek wil mense net aanmoedig: Dink mooi oor jóú digitale nalatenskap.

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!