’n Kleurvolle Donderdag
As joernalis kry jy baie te doen met die “wie-en-wats” van die wêreld en jy hoor gereeld by familie en vriende hoe jaloers hulle op jou is omdat jy die geleentheid gehad het om ’n onderhoud met ’n bekende persoonlikheid te voer.
Alhoewel ek in my gees (en my nuuskierigheid) die skrywer Malcolm Gladwell se kind kon wees, en daarom die geleentheid aangryp om suksesvolle mense uit te vra oor hul sukses, kon ek nog nooit verstaan hoekom roem iemand meer opwindend maak nie.
Selfs toe die teenwoordigheid van die Suid-Afrikaanse skilder Portchie my weliswaar “starstruck” gelaat het, kon ek eers later die middag die oorsprong van hierdie opgewondenheid verduidelik.
Dit was nie Portchie se roem wat my opgewonde gemaak het nie – dit was Portchie self.
Miskien is dit omdat hy die soort mens is wat ek nog altyd wou wees. Iemand wat besef ons wandel almal net op die aardbol rond en toe besluit hy hy sal maar hier rondloop met ’n hemelbreë glimlag. Wat is daar nog om te doen terwyl ons wag vir die einde om ons te kom haal?
Die ewige pessimis in my het geen klagtes teen ’n groot glimlag nie, maar ek het nooit die krag om self ’n semi-permanente glimlag te hê nie.
Net soos jy ’n Portchie-skildery van ’n myl ver kan uitken, so kan jy die glimlag raaksien wat sy oë laat skrefies trek vóór jy hom sien.
So nederig soos Portchie se lewensverhaal wat begin by die groentewinkel op die Vrystaatse dorpie Tweeling mag wees, het die lewensverhaal van die joernalis Herman Lategan of selfs die fiktiewe storie van Vaselinetjie my hart al reeds te erg gebreek om nóg hartseer te verwerk, soos Portchie se armoede.
Ek dink ook nie hy verwag dat hy moet hoor hoe harte breek wanneer hy praat van beet en wortels nie, maar tog is dit ’n eienaardige gedagte om te dink dat iemand wat tydens sy grootwordjare slegs kleur tussen die mielies en skorsies kon vind, so baie skakerings saam met hom dra.
Dit is nie net die kleurvolle voorskoot wat teen die tyd al redelik sinoniem met Portchie geword het nie, dit is asof hy die gevoel van kleur in ’n vertrek inbring.
So sit ek en Portchie op die Kletsbank en ek is op my senuwees. Wat as my vrae nie goed genoeg is nie? Wat as hy dink ek is nie professioneel genoeg nie? Wat as hy dink ek is te “stuck-up” en te professioneel dat ek geen teken van menslikheid toon nie?
Die aand hou hy ’n boekbekendstelling en soos ’n joernalis mos maar is, is ek daar. Portchie vertel vir die gehoor ’n storie wat hy daardie oggend in die Klets-ateljee met my gedeel het – hoe die groentewinkel hom geleer het as jy soveel rooi by sóveel rooi by sóveel blou en sóveel pers voeg, gebeur iets magies. Toe besef ek Portchie is eintlik ook maar ’n realis. Hierdie mens; die paar hande wat blou bome en vet bene skilder, nie om waansinnig te wees nie, maar omdat hy rasioneel daaroor gedink het – hy is ook mens.
Dit laat die nihilis in my dink, dalk selfs droom, dat sukses en geluk nie net beskore is vir diegene wat glo die wêreld kan goed wees nie. Miskien kan geluk ook iewers ’n pessimis vind en miskien, net dalk, gee dit my ’n rede om ’n glimlag iewers te kry.
– [email protected]
* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie