Hester Steenkamp
Hester Steenkamp

’n Koppie tee

Hester Sê MAAR NET
Yandi Du Plessis
Gasskrywer - Die ware oorsprong van tee is nie aan ons bekend nie. Daar is egter vele legendes en stories daaroor. Dit wissel van teeblare wat per ongeluk in warm water geval het tot ’n monnik, Bodhidharma, wat elke keer tydens meditasie lomerig geraak het, hom toe vir homself vervies het en sy eie ooglede afgesny het en op die grond neergegooi het. Daar waar die velletjies geval het, het blykbaar ’n teebos gegroei. Of so lui die legende.

Maar hoe dit ook al sy, mense regoor die wêreld is baie dankbaar vir die bestaan daarvan. Dink maar aan die Chinese wat ’n hele tradisie rondom tee het. Hulle bou dit, drink dit en dryf al vir duisende jare daarmee handel. Die maak van die tee is ’n seremonie wat aangeleer moet word. Dis nie soos ons wat net ’n teesakkie in warm water sit nie. O nee, dis ’n hele storie! Dis ook deel van geisjas se opleiding. Tee maak is ’n hoogs aangeskrewe vaardigheid. Die krag van ’n koppie tee moet nooit onderskat word nie. Dit word gedoen om nuwe familielede te verwelkom, nuwe vriendskappe te sluit en vir voorspoed vir die nuwe jaar. Soet tee vir ’n soet jaar! Daar is al baie probleme opgelos en verhoudings gered met die hulp van ’n koppie tee. Diep gesprekke benodig die troos wat net die aroma van tee kan verskaf. En dan is daar mos nog koningin Elizabeth ook...

Dwarsdeur my kinders se grootwordjare het ek altyd my beste raad vir die grootste krisisse gebêre. Ek het twee gewaarborgde stukkies raad wat altyd help: ’n Bad en ’n koppie tee. Voel jy siek? Vat ’n warm bad. Het die son jou gebrand? ’n Koel bad. Bekommerd oor die eksamen? Rooibostee. Hartseer oor ’n kys wat nie uitgewerk het nie? ’n Koppie sterk swart tee. Gespanne oor iets? Kamilletee. ’n Vriendskap wat verbrokkel het? Bitter groentee vir hierdie een. Daar is ’n koppie tee vir elke probleem.

Later, nog voor ek my pêrels van wysheid met hulle kan deel, begin hulle sommer klaar met: “Ja, Mamma, ek het klaar die tee gemaak. Wat nou verder?” Dan praat ons die saak van ’n kant af uit en kort voor lank is die groot probleem ’n klein probleempie en dan gesels ons oor ander dinge. Maar ek glo steeds dat die maak van die tee al begin om jou kop agtermekaar te kry. Die drink daarvan help ook.

Ons is bevoorreg om ’n groot verskeidenheid van tee te kan geniet. Daar is sitrus en granaat, gemmer en peperment, vanille, karamel en tiramisu, en nog baie ander. Ons sal nuwe probleme moet kry vir al die nuwe soorte tee.

En dan is daar natuurlik die raad in ’n Meisie se pad, ’n handleiding wat in 1973 verskyn het. Daarin verskyn die volgende raad:

“’n Man word soms gelei deur sy drange, maar ’n ordentlike meisie moet weet hoe om dit te weerstaan sonder om hom te affronteer. Die situasie is in jou hande en ’n man kan verder probeer gaan as wat betaamlik is. Beheer die oomblik op ’n verantwoordelike wyse, maar sonder dat hy dit besef. Waak teen oormatige liggaamlike nabyheid omdat dit so maklik die gevoelens van passie kan aanwakker. As die gevaarligte wel brand, verskoon jouself om tee te gaan maak.”

Nou, daar het julle dit! Tee help nie net probleme oplos nie, dit kan jou uit ongemaklike situasies ook kry!

Hoe jy ook al van jou tee hou – soet of bitter, swart of wit, gegeur of ongegeurd, rooi, groen of swart – daar is een wat jou vandag sal laat beter voel. En dink tog maar aan daardie arme monnik wie se ooglede geoffer is. Dalk.

- [email protected]

* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!