Kristien
Kristien

’n Kuier by ma se huis

Kristien Kruger
Met my skoene uit en voete op, lê ek op my ma se bruin sitkamerbank. Dit sit soveel lekkerder as my eie bank, want hier is dit nie my vuil skottelgoed wat vanuit die kombuis roep nie. Dit is nie my vuil wasgoed wat in die kamer spook nie. Ek sien nie eers die stof op die vloer of die raam wat skeef teen die muur hang nie. My huis met al sy projekte, werkies en pligte is ver en op dié bank rus ek die heel lekkerste.

Op dié bank voel ek weer soos ’n sorgelose kind en boonop lê die blinkoog labrador van my tienerjare by my voete.

Ver in die verlede het vier vuilvoet kindertjies op hierdie selfde bank gesit. Vandag sit hier vier volwasse broers en suster met nuwe klein voetjies wat dieselfde bank vuil trap.

Ons ma se huis is spesiaal. Dit is ons bymekaarkomplek en daarsonder sal ons verlore wees en mekaar dalk in die proses ook verloor.

Dit gaan eintlik glad nie oor die huis nie, maar eerder dit wat hier binne gebeur en dit wat vir dekades hier gebeur het. Dit is die skatkis van al ons kinderherinneringe en ons ouers is die bewaarders daarvan.

Die hart van hierdie huis, is ma en pa. Dit is ma wat laatnag warmsjokolade soos nes sy kan en pa wat vroegoggend koffie langs jou bed kom los.

Dit is die reuk van ma se kookkos en pa se rugbypraatjies. Dit is op die gras touch-rugby speel en met sonsak op die stoep kuier. Dit is jare se gesels, lag, speel, huil en onvoorwaardelike liefde.

’n Nuwe generasie maak nou hul eie herinneringe hier - ’n nuwe skatkis van herinneringe by ouma se huis en dit sal ook eendag met dieselfde waardering onthou word.

By ma se huis is almal weer kinders en saam met ouma se kleinkinders speel ons met watergewere op die grasperk en hardloop kaalvoet deur die sproeier. Ons spring trampolien en speel vroteier. Ons skop bal en lag uit ons maag.

Kerstyd by ma se huis is veral spesiaal.

Die geskenke is onder die boom en die kinders se opgewondenheid blink helder in hulle ogies. Ma se geregte het die reuk van heimwee en dit smaak soos onthou. Elkeen op sy plek rondom grootouma se eetkamertafel nes ons kleintyd Sondaemiddae gesit het. Ons vat hande en bid vir seën. Ons dank God vir die samesyn wat met die jare al skaarser word.

Ma se huis en ouma se huis sal nie vir altyd bestaan nie, maar die tye wat ons almal hier gehad het, sal nooit vergeet word nie. Die liefde wat ons hier beleef het, sal vir altyd gekoester word.

Hier sit ek met my voete op my ma se bank en my hart brand van dankbaarheid dat ek hierdie liefde kon ervaar, deel van hierdie gesin kon wees en die groot voorreg kan hê om gelukkige herinneringe te deel met ’n groep mense met wie ek vir altyd verbind sal wees.

Dit alles te danke aan die huis wat my ouers gebou het met hande van liefde, omgee en trots.

Kommentaar

Republikein 2025-04-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer