No Image Caption

'n Man wie se wil so vas soos klipsteen staan

Sy Stetson is laag oor sy oë getrek wat effens versluier, broeiend soek na iets ver op die horison.

Fyn plooitjies maak kreukeltjies in die hoek van elke oog, terwyl twee lyne aan albei kante van sy mond keep. Sy vel is soos gebreide leer en sy hande sterk.

Vir jare die simbool van ’n mán soos die een wat die digter Jan F.E. Ciliers so beskryf: “O, 'k hou van 'n man wat sy man kan staan; ek hou van 'n daad wat soos donder slaan,'n oog wat nie wyk, wat 'n bars kan kyk en 'n wil wat so vas soos 'n klipsteen staan!” Amen.

Die Marlboro Man – teenpool van vandag se metroman met skinny jeans en Boy Band-hemde wat sy eie potjie gesigroom het, Grey’s Anatomy kyk, “vape” en wat weet waarvoor #MeToo staan.

Byna 70 jaar gelede maak die man der manne sy verskyning as ’n ruwe cowboy in skilderagtige en ongetemde terrein. Die buiging is in ’n advertensie om die gewildheid van filtersigarette, wat in daardie stadium as vroulik beskou is, ’n hupstoot te gee.

Die aanvanklik vroulike fokus van die veldtog met die gepaste “Mild as May” se rigting verander egter na ruwe manlikheid. En nee, die Marlboro Man het my nie op die daad laat smag daarna om ’n pakkie Marlboro te gaan koop nie – die lus was nie vir rook nie, maar dié is ’n gesinsvriendelike koerant.

Die skuif na filtersigarette in die vroeë 1950’s was in reaksie op ontluikende wetenskaplike data oor die skadelike uitwerking van rook. Marknavorsing wys hulle sal oorweeg om die skuif na filtersigarette te maak, maar wil ook nie gesien word waar hulle teug aan iets wat eintlik op die vrouemark gerig was nie. Iets wat ek twyfel vandag die geval sou wees, met mans wat nou sonder skroom en skaamte “vape” dat die aarbei-gegeurde stoom so staan.

Die nuwe, ruwe veldtog fokus vervolgens op seekapteins, liggaamsbouers, oorlogkorrespondente, konstruksiewerkers en natuurlik cowboys. Laasgenoemde was so gewild dat besluit is om by dié konsep en ikoon te bly, met werklike cowboys, rodeo-ruiters en waaghalse.

Darrel Winfield van ’n plaas in Wyoming was die bekendste en ook langslewende Marlboro Man en was vir 20 jaar deel van die veldtog. Die kreatiewe direkteur wat hom vir die ikoniese veldtog gewerf het, beskryf sy vonds so: “Ek het cowboys gesien, maar ek het nog nooit een gesien wat regtig, wel, hy het my ’n moerse skrik op die lyf gejaag omdat hy soveel ’n werklike cowboy was.”

Winfield se “gebeitelde, robuuste voorkoms” het hom van die 1968 tot 1989 die macho-gesig van Marlboro-sigarette op televisie, in koerante, tydskrifte en op advertensieborde gemaak.

Die Marlboro Man-veldtog het ’n beduidende en onmiddellike effek op verkope van dié sigarette gehad. Mans omdat hy die simbool van manlikheid was en hulle soos hy wou wees, vroue omdat, wel, hulle hóm wou hê! In 1955 toe die veldtog begin is, was verkope US$5 miljard. Dit groei met 300% binne twee jaar tot N$20 miljard! Man en muis skuif groeiende bewyse oor die skadelike uitwerking van rook op die agtergrond, met ander vervaardigers van sigarette wat ook op die wa klim en met hul slagspreuke na-aap.

Vandag is die Marlboro Man ’n ikoon van die verlede, grootliks weens toenemende druk op die advertensie van tabakprodukte en in veral waar rook gevier of verheerlik word. En met goeie reg. Die feit dat ses van die mans wat in die advertensies gebruik is, ook aan longkanker of rookverwante siektes gesterf het, blus beslis die rooklus.

Maar gee my enige dag ’n Marlboro Man. Níks te doen met die sigaret in sy hand nie, vir my onthalwe kan hy ’n appel ook vashou. Of vir my.

Dankie tog vir Aquaman.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!