Theresa van Zyl
Theresa van Zyl

’n Namibiese nalatenskap

Theresa van Zyl – Ons land se president van byna twee termyne, wyle Hage Gottlieb Geingob, is ter ruste gelê met volle militêre eerbetoon.

Namibiё se eerste staatsbegrafnis van ’n president . . . tot in die fynste besonderhede beplan en uitgevoer met trots, eer en waardigheid. Windhoek se paaie – waar hy beweeg, geleef en gewerk het – is omskep in ’n erewag-roete wat die prosessie gedra het van die begin tot die einde van hierdie driedag-gedenknaweek.

’n Stad se gewone gang het sy pas makeer en in gelid begin beweeg as nasie, as eenheid – getrou aan die nalatenskap van ons land se wyle staatsleier – een Namibiё, een nasie. ’n Nasie geklee in hul beste swart. Geregsamptenare van die lugmag, weermag en vloot se volle uniform teenwoordig as ’n toonbeeld van parate, professionele eerbetoon.

Mense het van heinde en verre ingevlieg per helikopter of vliegtuig en Namibiёrs het die middestad binnegestroom per bus, privaat motor, huurmotor of planne gemaak om met saamrygeleenthede deel te kan uitmaak van dié naweek wat eenkant gesit is vir afskeid en die afsluit van die Geingob-era van ons land.

Hy was ’n man wat homself toegewy het aan die vooruitgang van sy geliefde land en die sterk fondasie van die Namibiese konstitusie gelê het. In kort, ons wyle president, Hage Geingob, se nalatenskap sal voortleef in sy mense, hul visie vir die toekoms en hul eenwees as Namibiёrs.

Hage Geingob was die president, ja – maar hy was ook ’n man, ’n pa, ’n oupa, ’n vriend wat op ’n ander, dieper, meer persoonlike manier gemis gaan word deur sy binnekring van familie en vriende. En, soos so baie van sy landsgenote voor hom, het hy ook die stryd teen kanker geveg, daarmee saamgeleef en steeds sy pligte nougeset nagekom. Hy het pyn geken, maar nie gaan lê nie; hy het sy droom bly volg en sy laaste asem uitgeblaas met sy geliefdes by hom.

Dit is tye soos hierdie wat ’n mens dwing om inwaarts te keer en na te dink oor die diepere dinge onder die oppervlak van roetine, die vlietendheid van tyd en die brose kosbaarheid van die lewe.

Die president is nie meer hier nie, die begrafnis is verby en die lewe gaan aan. Dit mag dalk hard klink, maar dit is waar. Al wat hy agterlaat en wat sy lewensjare sal oorleef veel langer as sy 82 jaar – is sy kinders en sy nalatenskap van die essensie van sy menswees. . . wysheid, visie en toewyding aan sy land se welstand.

Mag ek jou vandag op hierdie laaste Dinsdag van Februarie 2024 ’n vraag vra?

Dit kan ’n vraag wees wat jy dalk eenvoudig net kan afskud en kan ignoreer. Of dit kan ’n vraag wees waarbinne die potensiaal opgesluit is om jou lewenskoers, jou lewensingesteldheid te verander.

’n Vraag wat die poort kan word tot grootse dinge. . .

Die dag wanneer jou tyd op hierdie aarde uitloop . . . wat gaan jóú nalatenskap wees – jou “legacy”? Dít waarvoor mense jou nog vir dekades gaan onthou nadat jou lewensvlam uitgebrand het?

– Gasskrywer

[email protected]

* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!