’n Oorlog teen jou en my
Negeuur Sondagoggend sit ek met wraakgedagtes en selfbejammering in ’n klein polisiekantoor, besig om ’n saak te maak nadat daar Saterdagnag by ons ingebreek is.
Magtelose woede. Alles uit ons kaste en laaie gegooi, alles omgekeer en weg met wat ons met baie sorg, moeite, sente-omdraai, sweet en tandekners oor jare bymekaargemaak het.
Die konstabel wat my help is vriendelik, beleefd en het selfs uitgekom na die toneel. Dis die 18de saak wat sedert dagbreek by net die twee konstabels aanhangig gemaak word. Die neëntiende saak stap in met die nuus dat waardevolle gereedskap uit sy voertuig gesteel is.
“Ons wag nog vir die sake uit die informele nedersetting. Daar was vroegoggend al tientalle,” gesels hy.
“Tans is daar 60 verhoorafwagtendes in die selle hier agter – net vir sake van diefstal. Dié wat ons verdink, is reeds hier agter tralies,” sê hy.
“Dis duidelik ’n sindikaat gaan hoogs georganiseerd te werk – elke keer dieselfde modus operandi.”
Sprakeloos.
Saak 19 dring aan dat hulle die skelms moet vang. Hulle wil, hulle is oorweldig, gefrustreerd met howe. Hy vra uit oor die onlangse rooftog op ’n plaas naby Grootfontein, oor die slagting van ’n stoetbul ter waarde van N$100 000 en oor die 47-jarige boer, Calvin Mahoshi, wat in hegtenis geneem is nadat ’n vermeende stroper op sy plaas geskiet is.
Is dit dan ‘n oorlog?
“As ons die skelms vang, sê hulle hulle is honger, maar die vleis word alles verkoop. Of hulle sorg net vir hul families en ons pla hulle onnodig, die versekering sal mos betaal. Elkeen se mensereg, onaantasbaar, staan soos ’n tweede persoon langs hom. Ons ken egter hulle swakplek: As hulle nonsens maak, weier ons hulle besoeke in die tronk,” vertel die konstabel verder.
Boere reageer woedend oor die nuus van Mahoshi, want hy is hulle en hulle is hy – almal staan in dieselfde skoene. Hulle wil weet hoe hulle hom kan ondersteun en vertel verder van die dragtige, dooie koeie op hul plase, duur sonpompe en skape wat voete gekry het en wild wat wreedaardig in draadstrikke ly – tot hulle eindelik vrek.
Daar is die wat oorweeg om op te gee en hulle tien werkers en die se gesinne sal moet vra om elders ’n heenkome te gaan soek. Want die skelms is honger.
Miskien was dit die video van die pragtige bul met die assegaai in sy sy – deur sy long, tot in sy pens – wat my die meeste geraak het.
“Die wind blaas by die gat uit,” vertel ’n ontstelde boer. In die video kyk die bul ’n oomblik reguit, smekend, vir die kamera, voor hy draai met die assegaai in sy sy.
Of dalk het my laaste bietjie weerstand verkrummel toe die gemsbok-bul, sterk, jonk en gesond, hulpeloos met ’n gebreekte been in die draadstrik gelê het. Nee wag, dalk was dit die koedoebul wat my pa op sy plaas in ’n draadstrik gekry het.
Of die wond waarvan die dokter vertel het aan die voorkop van die bejaarde oom op die Grootfonteinse plaas, wat nog net altyd goed en lief was vir sy medemens.
Ek skryf elke dag hieroor, want die wat ore het, moet hoor en die wat oë het. . . Dit ís ’n oorlog! Een teen die gewone, wetsgehoorsame burger in hierdie land. En ons verloor hierdie oorlog.
Die ergste verloorders is ongelukkig die hongerstes, die armstes en die kinders wat ’n toekoms in hierdie mooi land moet hê.
Ons is onvoorbereid en nie opgewasse met ons vol tronke, oorweldigde polisiebeamptes en howe nie.
– [email protected]
* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie