’n Paradys genaamd Oranjemund
Ek was onlangs vir die eerste keer in Oranjemund en wat ’n ongelooflike belewenis was dit nie.
Ek weet nie hoeveel van julle al die voorreg gehad het om ’n draai in dié kusdorp te kon maak nie.
Vanaf Rosh Pinah ry jy deur die woestyn. Ja, soms ry jy langs die rivier, maar as dit soos nou is, is daar maar min water in. Dus is dit droog en bruin. Die landskap, berge en myne is besonders, maar die groenigheid is redelik skaars.
Die pad voel lank omdat alles dor is, maar skielik sien jy ’n oase wat voor jou uitstrek en nee, dit is nie lugspieëlings nie.
Soos jy in die dorp inry, staan ’n groot standbeeld van ’n man met uitgestrekte arms om jou te verwelkom. Die standbeeld word ook gepaslik “The Welcoming Man” genoem. Jy voel onmiddellik tuis.
Jy ry tussen hoë bome deur, links en regs is grasgroen grasperke, voor jou sien jy ’n sirkel met hoë palmbome en kleurvolle blomme. Jy knyp jouself, maar die ervaring word net ongeloofliker.
Die grasperke word grasperke met speelparke. Nie stukkende speelparke nie. Speelparke waar kinders speel en natuurlik wonder ek waar die volwassenes is om hulle op te pas. Dit is nie nodig nie, want in Oranjemund is kinders nog veilig en kan hulle nog sorgeloos met hulle vriende speel. Die groter kinders kyk na die kleiner kinders en so gee almal om vir mekaar.
Die pad vat jou tot in die hart van die dorp en jy sien muurskildery op muurskildery. Die een is mooier, kleurvoller en groter as die ander, maar almal is uniek en asemrowend mooi.
Die kunswerke gee die dorp ’n warm gevoel, ’n gevoel van “happy days” en hier kan mens onmoontlik kwaad wees of kwaad wil doen. Hier is jy net vrolik en gelukkig.
So van kwaaddoen gepraat. Ek wou so graag ten minste nog ’n week in die dorp bly om my siel te voed en te laat rus. Ek wou my visstok in die water gooi en my lewe tot rus dwing.
So het ek vir die een vrou waar ek ’n onderhoud gevoer het, gevra of sy nie dalk iemand ken wat die bakkie net vir ’n week lank vir my kan “steel” nie.
Die persoon moet net die bakkie vat en dan iewers parkeer en ná ’n week so entjie uit die dorp laat staan met ’n pap wiel, dan sal ek hom kry en huis toe ry.
Die vrou het my aangekyk asof ek mal is en baie verontwaardig gesê daar is geen rede vir enige persoon in Oranjemund om te steel nie en dit is hoekom niemand steel nie. Sy verstaan nou glad nie wat ek wil hê iemand moet doen nie. En dit som die dorp so goed op.
Jy weet soms ry jy in ’n dorp in en jou hare staan regop oor jou hele lyf. Jy kry net ’n vuil en onveilige gevoel en al is die mense hoe vriendelik, kan jy nie die onveilige gevoel afskud nie en jy bly oor jou skouer loer.
Dit is beslis nie Oranjemund nie. Die mense is vriendelik en hulle is gelukkig. Werkers in hulle oorpakke ry vroegoggend op hul fietse werk toe. Jy hoor hulle van ver af aankom omdat hulle sing, fluit of al laggend op hulle fone gesels. Wanneer hulle verby jou ry, word jy met ’n vriendelike: ‘Goeiemôre en lekker dag’ gegroet.”
Oranjemunders, ek hoop julle besef julle woon in ’n paradys en dat julle dit en julle omgewing met alle mag moet beskerm.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie