Tanja Bause
Tanja Bause

’n Rivier wat loop bly ’n avontuur

Tanja Bause
Ek was in die bevoorregte posisie om verlede maand ‘n hengeltoer na die Kuneneriviermond te kon meemaak. Ons was vier in ons klein ontsagwekkende span.

Van die 29 avonturiers was net drie vroue. Die een was die vrou van een van die toergidse en ook die sjef. Die ander twee was ek en ’n vriendin.

Op pad soontoe moes ons deur die Khumibrivier – wat ’n paar dae tevore afgekom het – ry. Dit was ons eerste steil bult af deur modder en weer steil bult op. Maar ons ma’s het nie bang kinders grootgemaak nie en ons was van die 12 voertuie die vyfde een wat die canyon aangepak het.

Woerts-warts was ons deur.

“Dis ook net omdat ons die pad vir julle mooi gemaak het,” was die kommentaar.

Met ons terugkeer het die Hoarusib die see ingevloei.

By die rivier aangekom, het ons uitgeklim en na die water gestap. Dit was ongelooflik om te sien hoe dit styg en hoe die branders al hoër en sterker word. Ek kan nie onthou wanneer laas ek ’n rivier sien afkom het nie. Nog minder wanneer laas ek ’n rivier deur die duine in die woestyn sien loop het.

Die Suid-Afrikaners was verstom omdat ons nie net doodeenvoudig deur die rivier ry nie. Hulle was ook verstom dat daar nie ’n brug naby was waaroor ons kon ry nie. En nog meer omdat almal baie min gepla was met die vooruitsig om vir etlike ure voor die rivier te sit en dalk sommer daar te kamp en eers die volgende dag verder te ry.

Hul oë was groot toe ons ’n bier uithaal, op die oewer gaan sit en ons voete in die water lawe.

“Wat is die plan, wat gaan ons maak, wat gebeur?” was van die talle vrae.

“Niks, ons wag, drink ’n bier en ontspan. Die water het sy eie tyd,” was van die antwoorde.

Dit was nie lank daarna nie en almal het hulle voete in die water gehad met ’n afdak gespan tussen die voertuie vir skaduwee.

Dit was amper ’n teleurstelling toe ons ná sowat 4 ure ingelig word dat ons verder stroomop sal kan deurry.

Dit was die eerste keer dat ons deur só ’n sterk vloeiende rivier moes ry en boonop nog ’n rivier wat meer as 200 meter breed is. Ons moes deur water tot op ’n eiland, deur nog water na die volgende eiland, en dan met die sterk stroom bietjie af en dan op die ander oewer uit.

“Moenie die uitgang verpas nie want dan is julle in die moeilikheid,” was die instruksie.

Die passasiers is in die rivier ingestuur om as padaanwysers te dien. Hulle het ook gewys wanneer die volgende brander kom, want skielik het hulle tot bo hul knieë in die water gestaan.

Sy het ’n slukkie moed gevat, die stuurwiel gegryp en die bruin sjokolademelk aangedurf. Ek het vir ondersteuning in die bakkie gebly (wel, dit was my verskoning want eintlik was ek nie lus om 200 meter deur modderwater te loop nie). Die padaanwysers het een vir een hul duime in die lug gehou sodra ons by hulle aangekom het. Rustig is ons van eiland tot eiland. Ons het hulle dopgehou en toe die brander by hulle verby is die laaste stroom aangepak. In die bakkie kon jy ’n speld hoor val en buite op droë land het die borste van die ouer groeplede begin swel.

“Goed gedoen, trots op jou,” was nou die kommentaar.

Kort op ons hakke was ’n oom van ons groep wat met die liedjie “Thunderstruck” wat by sy vensters uitgeblêr het, gestop.

“Sou die rivier my die see insleep wil ek ten minste met goeie musiek in my ore gesleep word,” het hy gesê.

Ek dink die gesegde van “don’t judge a book by its cover” tref hier die spyker op die kop.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer