Iréne-Mari van der Walt
Iréne-Mari van der Walt

'n Snytjie koek en 'n stukkie waardering

Iréne-Mari van der Walt
Ek was nog altyd ’n vreemde kind, en vreemde mense was nog altyd welkom in my huis.

As ek terugdink, moes ek eintlik met al die verjaardagpartytjies al geweet het ek sou nie gewild wees nie. My sesde verjaardagpartytjie, met die tema ‘tyd’, staan onder meer uit. Ek kon nie verstaan dat die mensdom sommer net ’n stelsel opgemaak het en ons almal het dit sonder rede begin volg nie, en omdat dit my gefassineer het, moes dit my partytjie se tema word. En op negejarige ouderdom het ek gesmeek om die Mona Lisa op my verjaardagkoek te hê. Ek kon nie verstaan wat die skildery so spesiaal maak nie, en weer eens omdat dit my gefassineer het, moes dit my partytjie se tema wees.

Einde ten laaste het ek nie ’n Mona Lisa-verjaardagkoek gekry nie, maar my partytjie was eerder ’n “high tea”. Ek dink my ma was teen daardie tyd net mooi keelvol vir vrae oor die Mona Lisa, die Titanic, tyd en waar dit vandaan kom, hoe groot is die heelal, hoe diep is die oseaan, hoeveel soorte vis is in die oseaan en al die “hoekoms” wat sou volg na enige antwoord wat sy sou gee.

Ek onthou ek was ietwat dikbek oor die Mona Lisa-debakel – as my maatjies nie van die Mona Lisa-koek sou hou nie, dan moet hulle sommer droëbek by die huis sit, dis my koek. Hulle kan mos op hulle verjaardagkoeke sit wat hulle wil.

Ek sien onlangs ’n video in die sosiale media van ’n Amerikaanse gesin wat ’n seun uit Afrika aangeneem het, en waar hy vir die eerste keer in sy lewe ’n verjaardagkoek kry – met sy naam en kerse op – die hele katoetie.

Die verjaardagkoek was nog nie eens voor hom neergesit nie toe bars hy al in trane uit. Toe die koek voor hom neergesit word, het hy opgespring en sy aangenome ouers stywe drukke gegee. Dit terwyl hulle hom aanmoedig om die kerse dood te blaas. Hy kon nog steeds nie die kerse doodblaas nie omdat hy te hard gesnik het.

In daardie oomblik was ek dankbaar vir die koeke wat soos horlosies versier was, die Barbie-koek en selfs die koek wat nie ’n Mona Lisa-koek was nie. Dié koek was toe maar net pers en met foto’s van my versier.

Dit is maklik om verlore te raak in al die “het nies”, maar ek dink dit is lekkerder om te verdwaal in dit wat jy wel het. Ek het ’n pers koek en ’n partytjie met al my maatjies gekry. Ek het vir agt jaar elke eienaardige partytjie – wat ek kon uitdink – gekry en tot vandag toe het ek daardie kosbare herinneringe.

Dit kan soms moeilik wees om nie ’n kompetisie van jou lewe te maak nie, veral in die era van sosiale media wanneer jy letterlik jou minderwaardigheidskompleks in die palm van jou hand vashou.

Ek dink dit is wie ons is as mense – om altyd beter te wil wees as die beste en ek dink in ’n mate is dit hoekom die mensdom so lank oorleef het, maar daardie einste dryfkrag kan ons ondergang ook beteken.

Neem ’n oomblik om asem te haal en onthou die pers koek smaak net so lekker soos die Mona Lisa-koek.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!